On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaat tweede meeste veediefstalgevalle in land

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:15 Thu, 05 Sep 2024

Vrystaat tweede meeste veediefstalgevalle in land | News Article
Foto: OFM

“Die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal bly die primêre brandpunte vir veediefstal, met gerapporteerde toenames van onderskeidelik 160 en 1 404 gevalle.”

Veediefstal bly ’n kopseer en ’n hartseer, nie net vir Suid-Afrikaanse produsente wat miljoene rande se skade ly nie, maar vir die land se ekonomie. 

In die eerste kwartaal van 2024 het diefstalle met 40% gestyg tot 6 321 gevalle vergeleke met dieselfde tydperk in 2023. Ten spyte van hierdie onlangse toename was daar ’n byna 14% afname in veediefstal oor die afgelope vier jaar.

Gedurende die eerste kwartaal van 2024 het die Vrystaat die tweede hoogste getal diefstalle op 756 aangeteken, gevolg deur Noordwes met 742 sake.

‘Vier uit nege provinsies het ’n toename in veediefstal ervaar’

Daarteenoor het die Noord-Kaap ’n afname tot 207 gevalle beleef.

Vier uit nege provinsies het egter ’n toename in veediefstal ervaar, met die Vrystaat wat met 3,4% gestyg het en Noordwes met 8,3%.

Die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal bly die primêre brandpunte vir veediefstal, met gerapporteerde toenames van onderskeidelik 160 en 1 404 gevalle.

Die polisie beveel die volgende maatreëls aan om vee teen diefstal te beskerm:

  • Onderhou alle heinings en hekke om jou vee te beskerm.
  • Herstel onmiddellik enige gate in of onder heinings.
  • Vee-eienaars moet hulle eiendom persoonlik inspekteer en nie op ander staatmaak nie.
  • Beveilig die werf of krale waar die vee aangehou word.
  • Wees veral waaksaam tydens ’n volmaan, oor naweke, aan die begin of einde van die maand, of tydens bekende piektye vir veediefstal.
  • Leer ken jou bure.

Verlede maand het die polisie op Villiers beslag gelê op 24 gesteelde skape wat in ’n minibus geprop was. Foto verskaf

  • Tel jou vee minstens weekliks.
  • Hou ’n deeglike voorraadregister.
  • Besoek jou naaste veediefstaleenheid vir aansoekvorms om aansoek te doen om handelsmerksertifikate by die landboudepartement.
  •  Merk jou vee kragtens die Wet op Diere-identifikasie, 2002 (Wet no. 6 van 2002), verkieslik met brandmerke.
  •  Belê in tegnologie soos kringtelevisiekameras om veediefstal te voorkom.
  •  Gebruik hulplyne wat gestig is deur samewerking tussen polisie, plaaslike boere-unies en gemeenskappe.
  •  Meld enige ongewone diere of verdagte individue by ’n veepos dadelik aan by polisie en jou bure.
  •  Moenie ongedokumenteerde mense as plaasarbeiders aanstel nie.
  •  Hou gedetailleerde rekords van arbeiders by om die polisie te help met veediefstalondersoeke.
  •  Werk saam met plaaslike polisiebeamptes en die eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies om hulle te ondersteun in hul pogings om veediefstal te bekamp.

Bel Stop Misdaad by 08600 10111, gebruik die MySAPS-app of nader jou plaaslike veediefstaleenheid om misdade aan te meld.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.