On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Welkom-gesin hoopvol ná dogtertjie (8) se kankerdiagnose

───   HEIDRÈ MALGAS 13:31 Thu, 25 Jul 2024

Welkom-gesin hoopvol ná dogtertjie (8) se kankerdiagnose  | News Article
Kaylin de Witt (8), ’n gr. 2-leerder aan Welkom-Volkskool, het in Junie vanjaar die diagnose gekry. Foto verskaf.

“Kaylin was die afgelope drie weke in die hospitaal, waar sy chemoterapie en ander behandeling ontvang het.”

Welkom se gemeenskap staan bankvas agter ’n klein vegtertjie, nadat bloedkanker by haar gediagnoseer is. 

Kaylin de Witt (8), ’n gr. 2-leerder aan Welkom-Volkskool, het in Junie vanjaar die diagnose gekry.

“Sy hanteer die behandeling regtig goed, en ons as ouers is trots op haar, sê haar pa, Kevin, en voeg by hul dogter is “baie sterk en positief”.

Kevin sê baie mense dink die woord “kanker” is ’n doodsvonnis. “Ek en my vrou is baie positief en ons weet ons kind sal dit oorwin. Ons glo dat die Here ’n plan met alles het en ons plaas dit in sy hande.”

Kevin, Kaylin se ma noem dat kanker nie ’n ‘doodsvonnis’ is nie. Foto verskaf.

Haar ouers het onraad vermoed toe Kaylin baie bloukolle aan haar liggaam gekry het sonder enige rede. “Haar neus het ook onophoudelik begin bloei. Ons het toe ’n spesialis geraadpleeg om die oorsaak te bepaal. Bloedtoetse het bevestig dat sy kanker het.”

Kaylin was die afgelope drie weke in die hospitaal, waar sy chemoterapie en ander behandeling ontvang het. Op hierdie stadium neem die gesin dit dag vir dag en hulle weet nie hoe die behandelingspad vorentoe gaan lyk nie, maar hulle glo dat Kaylin elke week sterker sal word.

“Ons moet elke Maandag Bloemfontein toe ry, sodat Kaylin haar behandeling by Netcare Universitas kan ontvang. Dit bring onvoorsiene koste mee, soos petrol en slytasie op ons motors, maar uiteindelik is die belangrikste dat Kaylin gesond word.”

Die de Witt gesin, klein Mienke, hulle mamma Shelbey, Kaylin en pa Kevin. Foto verskaf.

“Die hele Welkom-gemeenskap staan agter ons en almal gaan regtig uit hul pad om ons as gesin te ondersteun. Ons voel as ouers dat elke gebed ons kind en ons as gesin sterk hou.”

Kaylin se onderwysers is almal baie behulpsaam en gaan uit hul pad om haar huiswerk vir die ouers te stuur, sowel as om haar boeke op ’n weeklikse basis te besorg en seker te maak sy is op datum met haar werk.

Volkies, waar Kaylin skool gaan, se Grondslagfase het tydens hulle Voete vir Jesus-periode spesiaal hulle maatjie Kaylin de Witt opgedra aan ons Hemelse Vader en groot Geneesheer. Foto: Facebook.

“Ons moes ’n au pair aanstel om na Kaylin om te sien, omdat ek en my vrou albei moes teruggaan werk toe. Ons gaan Kaylin vir die volgende twee maande nie terug skool toe stuur nie, omdat ons voel haar immuunstelsel moet eers bietjie sterker word.” 

Kaylin is in goeie hande onder die sorg van dr. Du Plessis, wat hulle op die hoogte hou van haar behandeling en vordering. Gelukkig woon sommige van die gesin se familie in Bloemfontein; dus is daar akkommodasie beskikbaar wanneer hulle daar is, al kom dit wel met koste om die ander gesin se huis uit te help.

'n Ander skool in Welkom, Primêre Skool Naudeville, het vandag gebid vir Kaylin De Witt, om haar lyfie gesond te maak. Foto: Facebook.

Kaylin is ’n kreatiewe kind en geniet dit om in te kleur en te teken. Sy het reeds volop inkleurboeke en teddiebere gekry wat die gemeenskap vir haar geskenk het. Kaylin doen ook dans en speel netbal en hokkie.

Die gesin het ’n BackaBuddy-veldtog vir Kaylin begin om te help met die onkoste soos kos en petrolgeld vir die heen en weer reis, en vele meer.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.