Central SA
Bester-verhoor: Voormalige beskuldigde se prokureur verbaas─── 07:01 Tue, 23 Jul 2024

“Ons moet onthou dat dit ’n saak is wat so in die openbaar is dat ’n persoon ander risiko’s kan loop waarvan ons nie noodwendig sou weet nie.”
’n Voormalige G4S-werknemer, Nastassja Jansen, gee in ’n eksklusiewe onderhoud met die SABC besonderhede oor alles wat sy verloor het weens wat sy noem vals beskuldigings en sê sy oorweeg dit nog om die staat moontlik vir haar onregmatige inhegtenisneming te dagvaar.
Die staat berei voor vir die voorverhoor van die ontsnappingsaak van verkragting-en-moord-veroordeelde Thabo Bester in die Vrystaatse hooggeregshof in Bloemfontein.
Luidens ’n brief wat die aanklaer aan Jansen, een van die vorige beskuldigdes, geskryf het, is sy ingelig dat sy ’n getuie is en verplig word om met die aanklaer te vergader om ’n verklaring af te lê. Dit is, volgens die SABC se Chriselda Lewis, in teenstelling met die feit dat die aanklagte teen haar in die Bloemfonteinse landdroshof teruggetrek is voordat die aangeleentheid na die Vrystaatse hooggeregshof oorgeplaas is.
Die prokureur van Jansen het die metodes wat die staat gebruik het om van haar ’n staatsgetuie te maak bevraagteken.
’n Brief wat uitgelek is wat aan Jansen geskryf is, dui aan dat die staat wil hê sy moet ’n staatsgetuie word, ingevolge artikel 204 van die Strafproseswet (CPA). Dit beteken in wese die staat wil hê sy moet inligting verhandel om vervolging te vermy.
‘Jansen verklaar dat sy nie artikel 204-beskerming nodig het nie’
In antwoord op dié brief verduidelik Jansen aan die aanklaer dat sy nié verplig is om met hulle te vergader nie. Sy verklaar ook dat sy nie Artikel 204-beskerming nodig het nie, wat haar daarvan vrywaar om vervolg te word.
Haar prokureur, Masilo Koenane, sê toe aanklagte teen Jansen teruggetrek is, het die staat geen voorwaarde gestel nie en die terugtrekking van aanklagte was gegrond op ’n gebrek aan bewyse van haar betrokkenheid.
“Die saak van Nastassja Jansen is teruggetrek voordat die saak na die hooggeregshof geneem is en die aanklagte is teruggetrek. Dit het ’n idee van permanensie gegee, want as die saak teruggetrek is, beteken dit duidelik dat Jansen nie deel gaan wees van wat in die hooggeregshof gaan gebeur in terme van die voorverhoor en uiteindelik die verhoor nie,” sê Koenane.
’n Regsontleder van die Universiteit van die Vrystaat sê ingevolge artikel 204 word ’n getuie verplig om selfinkriminerende getuienis te lewer.
Volg dié skakel om na vorige episodes te luister: https://bit.ly/OFMSel35
Adv. Inez Bezuidenhout voeg by dat die hof dan besluit of die getuienis as eerlik beskou kan word en die getuie daarna vrywaring van vervolging kan gee.
Bezuidenhout verduidelik indien ’n persoon sou kies om nie die beskerming van artikel 204 te gebruik nie, kan die persoon weer van dieselfde oortreding aangekla word. Artikel 6 van die Strafproseswet is baie spesifiek deurdat wanneer aanklagte teen die persoon teruggetrek word, dit nie beteken dat die staat hulle nie weer vir dieselfde misdaad kan aankla nie. As ’n persoon voortgaan en ’n getuie word ingevolge artikel 204 en die hof tevrede is dat dit eerlike getuienis was, impliseer dit vrywaring van vervolging.
Bezuidenhout sê daar is verskeie redes waarom ’n persoon sou kies om nié ’n staatsgetuie ingevolge hierdie artikel te wees nie.
Sy noem media-aandag en openbare ondersoek as voorbeelde.
“Vrywaring van vervolging beskerm jou nie noodwendig teen openbare ondersoek van moontlike kwessies van arbeidsverhoudinge wat uit jou getuienis in die hof mag voortspruit nie. Ons moet onthou dat dit ’n saak is wat so in die openbaar is dat ’n persoon ander risiko’s kan loop waarvan ons nie noodwendig sou weet nie.”
Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder, sê die staat kan nie oor die meriete van die saak praat nie, aangesien die saak voor die hof is.
Bester en sy medebeskuldigdes sal Woensdag (24/7) weer in die hooggeregshof in Bloemfontein wees.
OFM Nuus cg