On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

DBV boos oor heropening van Bloemfonteinse dieretuin

───   ZENANDE MPAME 07:00 Wed, 17 Jul 2024

DBV boos oor heropening van Bloemfonteinse dieretuin | News Article
DBV boos oor heropening van Bloemfonteinse dieretuin. Foto: OFM Nuus

“Ontelbaar baie diere het gely onder die sorg van die Bloemfonteinse dieretuin.”

Mangaung-metro sê sy plan verloop vlot om die Bloemfonteinse dieretuin te heropen, al moet ’n datum vir die heropening nog vasgestel word.

Die dieretuin was vroeër ’n belangrike ekonomiese bydraer tot die munisipaliteit, aangesien mense van regoor die provinsie en die land dié instelling besoek het om verskillende diere te sien en meer van hulle te wete te kom.

Dit het skielik in Desember 2019 tot ’n einde gekom. Die publiek was die hoenders is, omdat die diere nie versorg is nie, en die geriewe nie meer in stand gehou is nie. Foto’s van die dieretuin is wyd op sosialemediaplatforms gedeel.


“Die dieretuin moenie toegelaat word om te heropen nie,” sê Jacques Peacock van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV). “Behalwe dat die munisipaliteit sy volslae onvermoë getoon het om die instelling te bestuur en die welsyn van die diere te verseker, is die idee van dieretuine verouderd.”

Hy meen sulke instellings doen min tot geen bewaring, terwyl opvoeding oor wildediere in dieretuine geen waarde het nie, tensy dit gaan oor diere in aanhouding.

“Bloemfontein kom goed klaar sonder ’n dieretuin. Daar is ook geen finale begroting daarvoor nie, maar die munisipaliteit sal die gemeenskapsdienstebegroting gebruik om die dieretuin te finansier, totdat ’n begroting goedgekeur is.

“Dit laat die vraag ontstaan van waarheen noodsaaklike geld vir basiese dienste herlei sal word om die dieretuin te finansier; benewens die diere gaan inwoners van Bloemfontein dus ook ly,” meen hy.


In November verlede jaar het Mangaung se burgemeester, Gregory Nthatisi, met die provinsiale Departement van Ekonomiese, Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake (Destea) vergader om die metro se planne te bespreek om die dieretuin te heropen.

Hy het gesê die metro is in ’n gevorderde stadium om die dieretuin te laat herleef. Die stadsraad soek egter geld om geriewe op te knap, nadat hy met Destea vergader het om regulatoriese dokumente vir die dieretuin te kry.

“Ons mense het daardie dieretuin nodig,” het Nthatisi gesê. “Gebiede wat naby Mangaung is, is afhanklik van daardie dieretuin. Ons kinders en gesinne is afhanklik van daardie dieretuin in terme van leer oor ekostelsels, die diereryk en ander verwante aspekte van die lewe.”

Die NDBV het bevestig dat die Vrystaatse Destea in hierdie stadium invoerpermitte vir klein katte en primate uitgereik het, ondanks die groot kommer oor dierewelsyn.

Bloemfontein may soon have a zoo again

“Geen aanhoupermitte (om die diere te huisves) is in hierdie stadium uitgereik nie, aangesien dit glo eers gedoen sal word as die diere reeds by die dieretuin is – wat onprakties en kortsigtig is en nie die welsyn van die diere holisties in ag neem nie,” meen Peacock.

“Ons het ons prokureurs opdrag gegee om te eis dat Destea nie permitte uitreik nie, anders sal ons die hooggeregshof dringend nader. Die Bloemfonteinse dieretuin is dieselfde instelling wat tans ’n strafregtelike vervolging teen hom hangende het vir ernstige oortredings van die Dierebeskermingswet 71 van 1962 weens growwe dieremishandeling en -verwaarlosing.

“Ons doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om saam met die NDBV te staan in hierdie stryd, regskoste is enorm en elke bydrae help. Ons doen ook ’n beroep op wydverspreide voorspraak wat ons stem laat hoor dat daar nie plek vir ’n dieretuin in Bloemfontein is nie, en dat burgers nie kan toelaat dat diere dieselfde lot as in 2019 en 2020 ly nie.”

Zoo cleaning campaign underway in Bfn

Die DA in Mangaung is intussen ook heftig teen die heropening gekant. “As die dieretuin sou heropen, loop die burgemeester gevaar van ernstige regsoptrede soos vervat in die verslag van die Munisipale Openbarerekeningekomitees,” het Thomas Ferreira, DA-raadslid, verlede week gewaarsku.

Hy het belowe die amptelike opposisie sal die dieretuin fyn dophou om seker te maak daar word aan dierewelsynstandaarde voldoen. Die party sal nie huiwer om oortredings aan die betrokke belanghebbendes te rapporteer nie.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.