On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Polisiesersant gewond in Villiers skietvoorval

───   HEIDRÈ MALGAS 16:00 Tue, 02 Jul 2024

Polisiesersant gewond in Villiers skietvoorval | News Article
Foto: SAPD

“Die sersant het behandeling ontvang vir ’n skouerbesering en is nou in ’n stabiele toestand.”

’n Polisiesersant herstel in die hospitaal, nadat sy beseer is tydens ’n skietvoorval op Villiers in die Noord-Vrystaat.

“Die sersant (39) het behandeling ontvang vir ’n skouerbesering en is nou in ’n stabiele toestand, nadat sy geskiet is deur verdagtes wat ’n winkel beroof het,” sê Peter Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Vyf gewapende verdagtes het in die vroeë oggendure van Dinsdag (25/6) ’n winkel by ’n vulstasie betree. Drie mans het die winkel binnegegaan toe een verdagte ’n vuurwapen op die kassier gerig het en almal gedwing het om op die vloer te lê.

‘’n Ander verdagte was besig om plofstof by die OTM te plant’

“Die rowers het met ’n onbepaalde hoeveelheid kontant en sigarette gevlug. Intussen was ’n ander verdagte besig om plofstof by die OTM te plant, maar die toestel het nie ontplof nie,” sê Kareli.

Al die verdagtes was gewapen met handwapens en het balaklawas gedra. Terwyl hulle die toneel probeer verlaat het, het ’n blitspatrollievoertuig van Villiers op die toneel aangekom. Die verdagtes het op die voertuig geskiet en ’n sersant beseer wat in die passasiersitplek was.

Nooddienste is ontbied, maar teen die tyd dat bykomende magte aangekom het, het die verdagtes reeds gevlug.

‘Niemand is nog in hegtenis geneem nie.’

Die polisie op Villiers het sake van sakeroof, poging tot moord, en poging tot OTM-bomaanval geopen. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Sers. Tauru Majoe van die provinsiale eenheid teen georganiseerde misdaad lei die ondersoek.

Enigeen met inligting oor die verdagtes kan hom bel by 071 094 0570 of Stop Misdaad by 08600 10111, of ’n anonieme wenk op die MySaps-app te los.

OFM Nuus het onlangs berig in ’n afsonderlike voorval dat vermeende transitorowers in Bloemfontein op polisiebeamptes geskiet nadat ’n onbekende bedrag kontant Saterdagmiddag 25 Mei uit ’n geldwa naby Lemo Mall, Heidedal, geroof is. Niemand is in dié voorval beseer nie.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.