On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Wanneer is antibiotika vir kleingoed nodig en wanneer nie?

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:07 Mon, 01 Jul 2024

Wanneer is antibiotika vir kleingoed nodig en wanneer nie? | News Article
Antibiotika is baie nuttiger wanneer ons die regte soort gebruik. Foto: iStock

“Elke keer wanneer jy die bakterieë in jou liggaam aan antibiotika blootstel, word die vatbare tipe bakterieë doodgemaak, maar enige antibiotika-weerstandiges word gespaar.”

Sommige mense dink wanneer ’n kind siek is, is antibiotika die enigste uitweg. Dit plaas groot druk op dokters om dit voor te skryf.

Maar dr. Chantelle van der Bijl, ook bekend as Bloem MomDoc op sosiale media, sê nie alle bakterieë is skadelik nie. Ons almal kom daagliks met duisende in aanraking.

“Ons word gekoloniseer deur baie verskillende soorte bakterieë wat op en binne ons leef. Om gesond te bly, moet ons ’n gesonde ekosisteem van bakterieë handhaaf, wat flora genoem word, terwyl ons die skadelike bakterieë wat infeksies kan veroorsaak, selektief uitskakel.”

Net sommige bakterieë veroorsaak siektes wanneer hulle van hul gewone plek af dwaal, byvoorbeeld die ingewande en dan probeer om op ’n nuwe plek soos die blaas te woon. “Dit lei dan tot urienweginfeksie. Die liggaam se immuunstelsel reageer op ’n infeksie deur die indringerbakterieë te beveg en te vernietig.”

Baie antibiotika het diarree as ’n algemene newe-effek. Foto: iStock

Die vraag op baie mense se lippe is wat presies is antibiotika. Van der Bijl sê voor bakterieë kan vermeerder en simptome veroorsaak, kan die immuunstelsel hulle gewoonlik doodmaak. Witbloedselle val skadelike bakterieë aan; selfs al kom simptome voor, kan die immuunstelsel gewoonlik die infeksie hanteer en bekamp.

“Antibiotika is ’n medisyne wat op die bakteriese sel inwerk en inmeng met sy vermoë om te oorleef en te vermeerder. As die bakterieë vatbaar is vir die antibiotika, sal hulle ophou groei of sterf.”

‘Die goeie bakterieë sal gewoonlik ná ’n rukkie vanself terugkeer’

Antibiotika beïnvloed nie virusse, swamme of parasiete nie; hulle bind net aan en beïnvloed bakteriese selle. “Elke keer as jy ’n antibiotika neem, raak dit al die vatbare bakterieë in jou liggaam, insluitend dié wat jou help om kos te verteer of jou teen infeksies beskerm.”

Baie antibiotika het diarree as ’n algemene newe-effek omdat die antibiotika baie van jou normale dermbakterieë (flora) doodmaak, en die goeie bakterieë in jou liggaam sal gewoonlik ná ’n rukkie vanself terugkeer.

Volgens Van der Bijl sal jou immuunstelsel, indien jy gesond is, die meeste lugweginfeksies – beide virale en sommige bakteriële infeksies – op sy eie gesond maak en is antibiotika slegs nodig vir mense met ernstige infeksies, ander gesondheidstoestande of oor die algemeen swak gesondheid.

’n Sekondêre infeksie kan ná behandeling vir ’n ander infeksie voorkom. Foto: iStock

“Die meeste respiratoriese en ander infeksies begin as virale, maar eindig dan as bakteriële infeksies. ’n Sekondêre infeksie is ’n infeksie wat tydens of ná behandeling vir ’n ander infeksie voorkom.

“Dit kan veroorsaak word deur die eerste behandeling of deur veranderinge in die immuunstelsel. Daarom het infeksies wat buitengewoon lank duur (sewe tot tien dae) en nie op hul eie verbeter nie, antibiotika nodig,” verduidelik sy en stel voor indien antibiotika voorgeskryf word, moet ’n dokter se advies gevolg word oor wanneer, hoe en vir hoe lank dit geneem moet word.

“Voltooi die hele kursus van medikasie om die terugkeer van die infeksie te voorkom. Om die medikasie te stop voordat die kursus voltooi is, verhoog die risiko dat die bakterieë weerstandig sal word teen toekomstige behandelings.

“Diegene wat oorleef sou aan die antibiotika blootgestel gewees het en kan gevolglik weerstand daarteen ontwikkel. Jy moet die kursus van antibiotika behandeling voltooi selfs nadat jy ’n verbetering in simptome sien.”

Sy verduidelik dat antibiotika nie virale infeksies soos die gewone verkoue en griep behandel nie en dat antibiotika ontwerp is om siektes wat deur bakterieë veroorsaak word, te behandel.

Volgens Van der Bijl kan die immuunstelsel gewoonlik dinge op sy eie hanteer. “As jy met bakterieë besmet is wat jou liggaam nog nooit gesien het nie, veg jou immuunstelsel die bakterieë. Die eerste keer dat jou liggaam ’n nuwe stam bakterieë teëkom, neem dit ’n rukkie om hierdie immuunreaksie te ontwikkel.

Dit neem ’n rukkie om hierdie immuunreaksie te ontwikkel. Foto: iStock

Maar, wanneer die bakterieë uitgeroei word, “onthou” die liggaam die samestelling van die bakterieë. Dus, die volgende keer as jou liggaam dieselfde bakterieë teëkom, sal dit baie vinniger en doeltreffender ’n immuunreaksie kan opstel om die bakterieë in sy spore te keer.”

Oor- en misbruik van antibiotika kan lei tot antibiotika-weerstand, waarsku Van der Bijl. “Antibiotika wat gegee word vir ’n infeksie wat nie deur bakterieë veroorsaak word nie of antibiotika wat nie spesifiek vir ’n sekere bakterie is nie, kan bydra tot die ontwikkeling van antibiotika-weerstandige bakterieë in daardie individu.”

Sy sê elke keer wanneer jy die bakterieë in jou liggaam aan antibiotika blootstel, word die vatbare tipe bakterieë doodgemaak, maar enige antibiotika-weerstandiges word gespaar.

“Hierdie bakterieë kan dan ’n nuwe populasie van bakterieë reproduseer wat weerstandig teen daardie antibiotika is. Dit kan beteken dat indien ’n kind ’n ernstige infeksie het, soos longontsteking, antibiotika dalk nie so goed sal werk in die toekoms nie.”

Oor- en misbruik van antibiotika kan lei tot antibiotika-weerstand. Foto: iStock

Sy verseker egter dat antibiotika baie nuttiger is wanneer ons die regte soort gebruik, maar indien jy op ’n kursus antibiotika was en nie beter raak nie, moet die bakterieë geïdentifiseer word.

“Om die oorsaak van ’n infeksie te bepaal, is dit noodsaaklik om ’n monster van die siek persoon te versamel en dit na die mediese laboratorium te stuur vir identifikasie.”

‘Sommige mense kan ’n ernstigste allergiese reaksie kry’

Hoewel antibiotika hul voordele het, het dit ook potensiaal lewensgevaarlike nadele. “Diarree, naarheid en braking is algemeen, maar sommige mense kan ’n ernstigste allergiese reaksie kry. Hierdie reaksies kan wissel van hipersensitiwiteit (jeuk en rooiheid) tot ’n erger anafilaktiese reaksie (keel- en tongswelling) wat tot die dood kan lei.”

“Antibiotika kan lewensreddend wees, maar om dit te vermy kan ook ’n goeie ding wees. Dit het beslis ’n plek in die behandeling van infeksies, maar ons moet erken dat antibiotika oormatig voorgeskryf word,” sê Van der Bijl.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.