On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vaaldriehoek-meisie benodig nog chemoterapie

───   HEIDRÈ MALGAS 11:36 Wed, 03 Jul 2024

Vaaldriehoek-meisie benodig nog chemoterapie | News Article
Carien van Dalen. Foto: Heidrè Malgas

Sy het Woensdag (3/7) die uitslag van haar CT-skandering gekry wat bevestig het sy het nog kanker, maar gelukkig het dit nie versprei nie.

’n Skoolmeisie van die Vaaldriehoek is terug in Bloemfontein vir nog chemoterapie in die Nasionale Hospitaal.

Ná Carien van Dalen (16) van Sasolburg se laaste chemosessie op Sondag 9 Junie het die dokters aan haar ma gesê hulle sal na Bloemfontein moet terugkeer, want sy moet nog twee rondes chemoterapie. Hulle vermoed daar is nog kanker.

Sy het Woensdag (3/7) die uitslag van haar CT-skandering gekry wat bevestig het sy het nog kanker, maar gelukkig het dit nie versprei nie. Maar, sê haar ma, Chrissie Jacobs, “ons bly hoopvol.”

Die nuus is swaar vir die gesin omdat hulle gehoop het die eerste week van Junie sou haar laaste chemoterapie gewees het. Ongelukkig moet Carien vir die volgende drie dae nog chemo kry, en dan weer oor vier weke. Daarna sal nog ’n CT-skandering gedoen word.

Carien van Dalen en haar ma, Chrissie Jacbos. Foto Heidre Malgas

Carien kan weens die behandeling nie alle kos inneem nie. Haar dieet is beperk tot net ’n paar kossoorte wat haar nie naar maak nie. Sy kan goed soos Doritos, Speckled Eggs en nartjies wel eet, maar die gesin trek noustrop weens die behandeling wat duur besoeke aan Bloemfontein insluit. 

’n Kankergewas van 7 kg is in Januarie van een van haar eierstokke verwyder. OFM Nuus het berig dat Carien nie al haar eksamens kon skryf nie en net twee vraestelle voltooi het.

Chrissie sê hulle kry finansieel en emosioneel swaar. Haar man, Carien se stiefpa, Willem, se werk is in die weegskaal omdat die maatskappy waarvoor hy werk, moontlik gaan sluit. “Ons hou aan bid en bly positief dat alles goed sal afloop,” sê sy.

 Carien van Dalen voor haar operasie om die gewas van 7 kg te verwyder. Foto verskaf

Carien se eetlus het erg verswak. Al wat sy kan inhou, is broodrolletjies en koue vleis. Sy peusel aan lekkernye, wat veroorsaak dat haar bloeddruk soms wissel. Maar sy bly optimisties en haar advies aan ander tienermeisies in soortgelyke situasies is om positief te bly en in God te glo, “omdat Hy getrou is”.

Carien het die laaste paar maande baie gewig verloor en kort nuwe skoolklere aangesien haar huidige uniform te groot geword het. Ongelukkig kan haar ouers dit nie bekostig nie. 

Die gesin het begin om geld in te samel om die mediese uitgawes te dek. 

OFM Nuus/ Heidrè Malgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.