On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Vyf geslagte vroue van Parys dankbaar vir geleende tyd

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:41 Fri, 28 Jun 2024

Vyf geslagte vroue van Parys dankbaar vir geleende tyd | News Article
Die vyf geslagte vroue van Parys. Foto verskaf.

“Vertel ons gerus in die kommentaar as jy ook deel is van vier (of vyf) geslagte wat nog lewe.”

Dit is nie aldag dat vyf geslagte vroue leef om mekaar te ken, en boonop ’n klipgooi van mekaar af woon nie, soos dié vyf vroue van Parys.

Met die doop van twee (agter)kleinkinders het vyf geslagte die geleentheid gehad om weer bymekaar te wees, ’n herinnering wat hulle vir altyd sal koester, veral omdat hulle besef dis net deur die genade wat hulle almal nog hier is.

Ooroumagroot Heila Botha (91), oumagrootjie Christa Olivier (72), ouma Retha de Vos (50), ma Danél Jansen van Rensburg (27) en dié se dogter, Karli Jansen van Rensburg (2), is Vrystaters in hart en siel. Almal woon al jare lank op Parys.

Karli en haar boetie, HC, is Sondag (9/6) in die NG Kerk Parys-Oos gedoop.

Danél, Rikus, HC en Karli. Foto verskaf

Ouma Heilia spog ook met nog drie agteragterkleinkinders: Brandon, Luan en Cobus.

“Ons is almal mal oor kos maak en ouma Christa geniet dit om vir ons te kook. Van ons kosbaarste oomblikke is wanneer ons almal by mekaar kan wees, om die tafel sit en net lekker gesels,” sê Danel.

“Ons is ongelooflik geseënd om nog saam te wees. Dit is werklik net die genade en seën van die Here wat ons so lank spaar vir mekaar.”

Ouma Heila op haar 90ste verjaarsdag met haar agteragterkleinkinders. Foto verskaf

Heila was 28 jaar met Retief Uys getroud, voordat sy met George getroud is, wat in 2014 in die ouderdom van 80 oorlede is, ná ’n huwelik van 29 jaar. Sy het drie kinders: Christa Olivier, Annelien van der Westhuizen en Sanet Cilliers, terwyl haar seun, Kobus Uys, oorlede is.

Christa en Gert vier in Augustus hul 52ste huweliksherdenking en het twee kinders, Arno Olivier en Retha de Vos. Retha en haar man is al 14 jaar getroud. Hulle het twee dogters, Maryna Oberholzer en Danel Jansen van Rensburg, en een seun, JP Mostert. Danél en Rikus is vier jaar getroud en twaalf jaar saam, met ’n seun, HC, en ’n dogter, Karli.

Brandon, Luan en Cobus. Foto verskaf.

Ouma Corrie Wijnbeek, van Swartruggens in Noordwes, is in 2021 oorlede in die ouderdom van 108 jaar, maar ten spyte van haar besonder hoë ouderdom het sy net agteragterkleinkinders gehad; dus ook vyf geslagte.

Ouma Corrie Wijnbeek en haar vyf geslagte. Foto verskaf.

In Amerika is die kans dat ’n familie uit vyf lewende geslagte sal bestaan sowat een uit 10 000. As ’n baba se ma 20 is, sy ouma 40, oumagrootjie 60 en ooroumagrootjie 80, is dit vyf lewende geslagte, maar dit gebeur selde dat opeenvolgende geslagte so klokslag gebore word.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.