Central SA
Vyf verdagtes met miljoene se bedreigde plante aangekeer─── 09:27 Sun, 30 Jun 2024

“Die verdagtes is vasgetrek terwyl hulle besig was om die bedreigde Clivia Mirabilis-plante te stroop.”
Die Noord-Kaapse polisie in Nieuwoudtville het met die hulp van lede van ’n nabygeleë natuurreservaat op vyf manlike verdagtes toegeslaan terwyl hulle beskermde plante ter waarde van sowat R2,7 miljoen in Nieuwoudtville gestroop het.
Die span het op 27 Junie 2024 inligting oor beweerde plantstropery naby Nieuwoudtville opgevolg en die verdagtes vasgetrek terwyl hulle besig was om die bedreigde 424 Clivia Mirabilis-plante te stroop.
A rare Iridaceae plant in Nieuwoudtville: Hesperantha vaginata, and its exclusive pollinator: hopline scarab beetle (Clania glenlyonensis). #Iridaceae #SouthAfricanPlant #Hesperantha #beetle #NieuwoudtvilleWildflower #??? #???? pic.twitter.com/6jRvhTsNUh
— Wenbo Chen (@Wenbo77) March 12, 2019
Die verdagtes is tussen die ouderdomme van 21 en 30 en word van die onwettige besit van bedreigde plantspesies aangekla en sal binnekort in die hof verskyn. Die ondersoek duur voort.
Die Provinsiale Kommissaris vir die Noord-Kaap, luitenant-generaal Koliswa Otola het die Nieuwoudtville SAPD en die lede van die Natuurreservaat geloof vir die uitstaande sukses en het herhaal dat pogings om die fauna en flora in die provinsie te beskerm sal voortgaan, in samewerking met alle inwoners.
Dié plant is die eerste keer in 2002 naby Nieuwoudtville ontdek. Foto: msanziflora.com
Clivia mirabilis is ’n plant wat die eerste keer in 2002 in ’n kloof naby Nieuwoudtville in Namakwaland ontdek is. Dit is ongewoon omdat dit die enigste Clivia is wat in ’n winterreënvalklimaat gevind word.
Dit is ’n pragtige plant met rooi pigmentasie aan die basis, ’n eienskap wat dit oordra wanneer dit met Clivia caulescens en Clivia miniata gekruis word. Dit het ’n silwer streep in die middel van die blare. Clivia mirabilis het hangblomme in neonagtige kleure van ligte pastel tot rooi wat aan lang pedikels hang.
Hierdie clivias benodig ’n goed gedreineerde, bas-gebaseerde (verrotte) kompos met stadigvrystellende kunsmis. Omdat Clivia mirabilis gewoond is aan winterreënval, behoort dit dakbeskerming te hê om te veel reën in die somer te voorkom.
OFM Nuus cg