On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

MS-lyers durf Aldam se ysige water aan vir liefdadigheid

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:12 Fri, 28 Jun 2024

MS-lyers durf Aldam se ysige water aan vir liefdadigheid | News Article
Rozaan Steyn en Gerrie Hadder. Foto verskaf

“Sy het voorberei vir die uitdaging deur te stap, swem en yskoue storte te neem.”

Die immergewilde Ysbeer-uitdaging vind jaarliks landwyd plaas waar deelnemers in yskoue water duik vir die bewusmaking van verskeie siektes.

Saterdag (26/6) durf Rozaan Steyn en Gerrie Hadder, veelvuldige sklerose (MS)-lyers, en twee ondersteuners, Ansie Steyn en Zelda van Deventer, die uitdaging aan in die Willem Pretorius-wildreservaat tussen Winburg en Ventersburg.

Rozaan Steyn sê haar ouers, Lukas en Ansie, is haar grootste steunpilare. Foto verskaf

MS is ’n siekte waar die immuunstelsel die beskermende skede (miëlien) wat die senuwees bedek, vernietig. Dit lei tot spierswakheid, verlies aan koördinasie of balans en dowwe of dubbelvisie.

“Ons doen die Ysbeer-uitdaging vir almal wat deur hierdie wrede siekte geraak word – die hardnekkige vegters, diegene wat hul stryd verloor het en veral die versorgers, familie en vriende wat hierdie pad saam met ons stap,” sê Steyn. MS is vier jaar gelede by haar gediagnoseer.

Sy het voorberei vir die uitdaging deur te stap, swem en yskoue storte te neem, maar vir Hadders, wat sedert 2011 met MS saamleef, was die voorbereiding meer geestelik as liggaamlik. “Die laaste paar weke het die werklikheid van alles harder getref met die heengaan van Thys (Die Bosveldklong) aan dié siekte.”

Hadder, wat al etlike jare aan ’n rolstoel gekluister is, steun swaar op sy seun. “Jean is my steunpilaar. Hy ry my rond, help met die familieonderneming en het my gewys hoe belangrik ’n ondersteuningstruktuur is,” sê hy.

Gerrie Hadder en sy seun, Jean. Foto verskaf

“MS is ’n uitdagende siekte, maar ons geloof, Jesus se genade en die ondersteuning van familie en vriende dra ons elke dag,” sê Steyn.

Die Goudveldse Ysbeerswem, nou in sy 29ste jaar, word Saterdag (29/6) by die Allemanskraaldam gehou. Dit is die 27ste keer wat dit in die dam aangebied word, aangesien deelnemers slegs video’s van hul swem in 2020 en 2021 kon indien weens die Covid-19-pandemie.

Die Polar Bear Swim het sedertdien uitgebrei na Bloemfontein en Sutherland, alles ter ondersteuning van liefdadigheid.

Rozaan Steyn het in 2022 Tafelberg uitgeklim. Foto verskaf 

Die geleentheid vind ook op 6 Julie in die Modderrivier by Doringbos naby die Krugersdriftdam buite Bloemfontein plaas, en op 13 Julie in die private natuurreservaat Rogge Cloof buite Sutherland in die Noord-Kaap.

Vir meer inligting besoek Polar Bear Swim se Facebookblad. 

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.