On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

DA-raadslid van Bloemfontein groet weens gesondheid

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:29 Fri, 28 Jun 2024

DA-raadslid van Bloemfontein groet weens gesondheid | News Article
Rossouw Botes. Foto verskaf

“Ná 16 jaar neem Botes afskeid van sy wyk in Bloemfontein waar hy as wyksraadslid in wyk 25 in Fichardtpark en Pellissier gedien het.”

‘n DA-raadslid van Bloemfontein groet ná 16 jaar weens gesondheidsredes.

Rossouw Botes (65) was die afgelope twaalf maande twee keer in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad waar hy 'n groot hartoperasie ondergaan het. In Augustus 2023 het hy die elfde persoon geword by wie 'n LVAD-toestel (linkerventrikulêre hulptoestel) ingeplant is.

Ná 16 jaar neem Botes afskeid van sy wyk in Bloemfontein waar hy as wyksraadslid in wyk 25 in Fichardtpark en Pellissier gedien het.

Hy gaan egter nie Bloemfontein verlaat nie en betree ‘n nuwe hoofstuk in sy politieke loopbaan. “Met die oorgang na die rol van proporsionele raadslid (PR) sal ek verantwoordelikheid handhaaf vir toesig oor dienslewering binne die DA-koukus insluitend die bestuur van waterwese en ander noodsaaklike dienste in die Mangaung-metro. Ek sal ook beheer neem van die monitering van kapitaalprojekte wat in die begroting uiteengesit word. Hierdie oorgang tree onmiddellik in werking met ’n tussenverkiesing wat sal plaasvind om my pos as wyksraadslid te vul,” sê Botes.

Hy erken dat sy gesondheidstoestand 'n rol in die besluit gespeel het, maar as 'n PR sal hy steeds sy gemeenskap kan dien. “Ek is steeds besig om aan te sterk ná die tweede operasie ’n maand gelede waar hulle ’n stent ingesit en my hart gebrand het.”

Botes is vir 40 jaar 'n aktiewe lidmaat van die NG gemeente Pellissier en het twaalf jaar daaraan gewy om as hoofdiaken te dien. Hy was ook agt jaar op die beheerliggaam van die Laerskool President Brand waar hy die voorsitter van die ouerkomitee was. Hy het ook ses jaar die Spar in Pellissier besit.

’n Hoogtepunt was toe hy in 2015 as die beste raadslid in die Vrystaat aangewys is.

Die 300 000 liter water wat Rossouw Botes van Sasolburg laat aanry het vir inwoners wat nie water het nie. Foto verskaf 

“Van my noemenswaardige prestasies was die oplossing van waterkwessies in Pellissier en die suidelike dele van die stad geïnisieer deur 'n petisie aan die parlement en die Minister van Plaaslike Regering, Nkosazana Dlamini-Zuma. Dit het daartoe gelei dat die munisipaliteit 'n reservoir gebou het wat Pellissier, La Rierpark en Kwaggafontein bedien het.”

Ten spyte van vertragings weens konflikte tussen konsultante en die munisipaliteit, het die projek weer momentum gekry met 'n toekenning van R1,6 miljoen vir die 2024/2025-boekjaar.

Nog ’n hoogtepunt vir hom was ’n nuwe toegangspad wat op sy aandrang in Pellissier gebou is. Hierdie projek is aangevoer deur talle ongelukke wat by die T-aansluiting van Aandwindstraat en Volkspelerylaan plaasgevind het. "Die hoofdoelwit was om veiligheid en gerief vir motoriste te verbeter met die doel om ongelukke in die gebied te verminder."

Rossouw Botes toe hy in 2015 as beste raadslid in die Vrystaat aangewys word saam met Patricia Kopane en Helen Zille. Foto verskaf 

Botes wat ook bekend gestaan het as "Mnr. Water" in Bloemfontein, sê hy gaan sy betrokkenheid by die gemeenskap die meeste mis omdat hy weens omstandighede moet afskaal en nie meer so aktief betrokke sal kan wees nie.

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.