On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vermiste man en hondjie van Bethlehem ongedeerd gevind

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:11 Fri, 28 Jun 2024

Vermiste man en hondjie van Bethlehem ongedeerd gevind | News Article
Marius van Rensburg is ongedeerd gevind. Foto: verskaf

“ Van Rensburg het in die nabygeleë veld rondgedwaal.”

’n Man van Bethlehem in die Vrystaat is ongedeerd nadat hy laat Dinsdag (25/6) verdwyn het.

Marius van Rensburg (65)  wat voorheen by die Hoërskool Witteberg skoolgehou het, is Woensdag, (26/6) in 'n veld naby die plaas Soeteinval langs die R26-pad suid van Bethlehem gevind.

Christa Ikking, distrikskoördineerder vir AfriForum in die hooglandstreek, sê hy het gevorderde demensie. “Van Rensburg het Dinsdag omstreeks 16:00 in sy motor weggery nadat sy vrou, Erika, hom na sy doktersafspraak geneem het. Hul hondjie, Emma, was ook in die motor.”

Van Rensburg is sonder sy vrou daar weg wat tot kommer gelei het. 

Marius van Rensburg het in die motor weggery. Foto verskaf

“Erika het dadelik vir Jeandre Visagie, ’n AfriForum-buurtwaglid, in kennis gestel waarna alle buurtwaglede ontplooi is om te help met die soektog. Besthsec Sekuriteit en BBS-Bethlehem Beheersentrum het ook hul kamerastelsel ingespan om die buurtwagte te help – sodoende kon hulle dadelik inligting deurgee oor waar Van Rensburg se voertuig opgemerk word.”

Van Rensburg se motor is op kringtelevisiekameras op 'n nabygeleë pad opgemerk en die soektog het in daardie omgewing begin. “Ongelukkig moes ons die soektog Dinsdag om 22:00 opskort, maar dit is Woensdag om 06:00 hervat.”

‘Van Rensburg het in die nabygeleë veld rondgedwaal’

Sy motor is Woensdagoggend by die hek van Soeteinval opgemerk. “Soekspanne het na die plek gehaas en Emma steeds in die voertuig gevind. Van Rensburg het in die nabygeleë veld rondgedwaal. Hy was ongedeerd, maar is as voorsorgmaatreël na Mediclinic Hoogland geneem vir 'n mediese ondersoek.

“Dit is regtig ’n wonderwerk dat oom Van, soos hy in die gemeenskap bekend is, die nag in die Bethlehem-koue deurgebring het en steeds ongedeerd is. Dit is slegs genade van Bo en ’n gemeenskap se omgee wat sulke wonderwerke laat gebeur.”

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.