On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Central SA

Bethlehem se vegtertjie vier verjaardag in hemel

───   HEIDRÈ MALGAS 15:44 Thu, 27 Jun 2024

Bethlehem se vegtertjie vier verjaardag in hemel | News Article
Liza Engelbrecht, sou vandag haar verjaardag gevier het. Foto: Facebook

“Elyna is nou in gr. 1 en vaar baie goed. Sy is ’n sterk dogtertjie.”

Die sesjarige meisie van Bethlehem wat in Julie verlede jaar oorlede is weens chroniese granulomatose sou vandag haar verjaardag gevier het.

Liza Engelbrecht is op 29 Julie 2023 oorlede nadat die siekte by haar gediagnoseer is toe sy een jaar oud was. Sy was maar nege maande oud toe ’n granuloom aan haar een long opgespoor is.

Liza se tweelingsussie, Elyna, is vandag (27/6) sewe jaar oud, sê Janet Engelbrecht, hul ma. “Elyna is nou in gr. 1 en vaar baie goed. Sy is ’n sterk dogtertjie.”

Elyna, Janet en Liza Engelbrecht. Foto: Facebook

Sy sê Elyna praat gereeld oor Liza en vra vrae oor die hemel. Hulle beantwoord haar so goed as wat hulle kan en is glad nie bang om Liza se naam in die huis te noem nie. “Aan die begin was Elyna eensaam, maar sy het ’n hondjie gekry met die naam Bluey, en hy is die beste ding wat met ons kon beur, veral in hierdie tyd.”

Sy sê Bluey is ’n dierbare hond wat alles doen om met Elyna te speel. Hy het soveel geduld en bring soveel vreugde in hulle huis.

“Vanoggend het ons begin met kolwyntjies, kersies en geskenke. Ons hou Saterdag ’n partytjie en Elyna se niggie en nefie van Dubai gaan ook daar wees. Sy is so opgewonde om hulle te sien.”

Elyna Engelbrecht en haar hond. Bluey. Foto Facebook 

Op die partytjie gaan die familie reënboogballonne loslaat vir Liza omdat sy dol was oor reënboë. “Liza is heeldag in my gedagtes. Natuurlik is dit ’n bittersoet dag – soos om ’n verjaardag te vier met ’n lag en ’n traan,” sê sy.

Die Engelbrecht-gesin het steeds die Wogison Foundation wat hulle begin het tydens Liza se siekte en hulle wil dit graag as organisasie sonder winsoogemerk registreer.

Engelbrecht sê heelwat geld is nog in die rekening beskikbaar en hulle wil graag nog kinders help. Die stigting het reeds baie bygestaan wat in ’n soortgelyke moeilike situasie is. Dit sluit meestal kinders in wat in die hospitaal is en ouers wat geld nodig het om die onkoste te dek.

Werner en Janet Engelbrecht saam met hul dogters. Foto: Facebook

“Geld vir dinge soos vervoer of verblyf, of selfs net mediese onkoste en ander noodsaaklikhede. Ons het ook al ’n hele paar mense gehelp wie se kinders oorlede is deur die familie met begrafniskoste te ondersteun,” sêsy.

Engelbrecht se boodskap aan Liza vir haar verjaardag lui: “Veels geluk, my liefste Liza. Ons vier dit hier sonder jou, jou kersie is te vroeg geblus. Jy was meer as net een spesiale dag. Op hierdie dag sal ons jou vir ewig en altyd onthou.”

OFM Nuus/ Heidrè Malgas

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.