On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes: Owerhede lê beslag op onwettige sigarette van R8 miljoen

───   HEIDRÈ MALGAS 13:50 Thu, 27 Jun 2024

Noordwes: Owerhede lê beslag op onwettige sigarette van R8 miljoen  | News Article
Onwettige sigarette van miljoene rand is in Noordwes gekry. Foto verskaf

“Soldate wat op ’n patrollie was, het ’n verdagte vragmotor opgemerk wat stilgehou het weens ’n pap band.”

Die weermag en polisie het beslag gelê op onwettige sigarette met ’n geskatte waarde van R8 miljoen naby Suid-Afrika se grens met Botswana in die omgewing van Makgobistad in Noordwes.

“Soldate wat op ’n patrollie was, het ’n verdagte vragmotor opgemerk wat stilgehou het weens ’n pap band. Hulle het die voertuig genader en ’n man het uit die vragmotor geklim. Hy het oor die grensdraad na Botswana gespring en gevlug,” sê Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.

Die vragmotor is naby die Botswana-grens opgemerk. Foto verskaf

Myburgh sê die weermaglede het met die deursoeking van die vragmotor op ’n groot vrag onwettige sigarette afgekom. “Die polisie is ontbied wat gelei het tot die onmiddellike konfiskering van die onwettige goedere.” Die Valke het met sy ondersoek na die saak begin. 

Op 27 Julie 2023 het ’n 44-jarige Zimbabwiër in die Lehurutshe-landdroshof in Noordwes verskyn op aanklag van die besit van onwettige sigarette, het Amanda Funani, provinsiale polisiewoordvoerder, destyds gesê. Die man is aangekeer omdat hy na bewering probeer het om onwettige sigarette van meer as R12 miljoen te smokkel.

Funani het gesê vragmotors word nie toegelaat om tydens beurtkrag die land binne te kom of te verlaat nie, omdat die rekenaars van lyn af is. ’n Polisielid, wat die grens gepatrolleer het, het gesien hoe die vragmotor die grens verlaat en na Zeerust ry.

Lede het vinnig opgetree en die voertuig genader. Foto verskaf

Die polisiebeampte het sy bevelvoerder ingelig en die vragmotor is agtervolg en voorgekeer voor die bestuurder Zeerust kon bereik.

“Die bestuurder is beveel om terug te ry na die Skilpadhek-grenspos. SAID en doeaneamptenare is versoek om die vragmotor te inspekteer en bokse sigarette – van R12 868 509 – wat die bestuurder versuim het om by die doeane te verklaar, is in die vragmotor ontdek,” het Funani gesê. Die bestuurder is in hegtenis geneem en van die besit van onwettige sigarette aangekla.

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.