On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Central SA

Motorfietsryers pak koue om meisies se toekoms te verbeter – VIDEO

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:52 Thu, 27 Jun 2024

Motorfietsryers pak koue om meisies se toekoms te verbeter – VIDEO | News Article
Sommige deelnemers sal ’n 620 km-grondpadroete aflê. Foto verskaf

Therapéa Kids huisves 23 meisies tussen die ouderdomme van 6 en 18. Dit het die afgelope dekade gedien as ’n toevlugsoord vir meisies wat deur hofbevele uit hul huis verwyder is en in ’n veilige omgewing geplaas is.

Vyftien toegewyde motorfietsryers maak gereed vir die “ysbeeruitdaging” waar hulle vir twaalf uur die koue gaan trotseer om kinders uit moeilike omstandighede van ’n beter toekoms te verseker.

Mans en vroue van Xtreme Bikers gaan op Saterdag 6 Julie aan die Xtreme Dreams 3.0-ses-tot-ses-uitdaging deelneem ten bate van die Therapéa Kids-jeugsentrum in Bloemfontein en honderde kilometers aflê, sê Hendri Swanepoel, ’n lid van motorfietsklub.

Swanepoel en sy vrou, Alide, is sedert 2017 betrokke by die sentrum. “Die meeste kinders leef uit hul ouers se beursies tot op 23, maar die Kinderwet vereis dat inwoners bo die ouderdom van 18 die jeugsentrum moet verlaat.

“Daarom beoog Xtreme Bikers om geld in te samel om hierdie jong vroue te ondersteun om naskoolse kwalifikasies te bekom om hulle te help om werk te kry en uiteindelik selfonderhoudend te word.”

Ten spyte van die staat se betrokkenheid by operasionele besluite en terapeutiese intervensies ontvang die sentrum geen finansiële bystand van die owerheid nie.

Swanepoel vertel twee meisies van die sentrum het verlede jaar matriek geskryf. “Die een werk nou by ’n skool wat kinders versorg, terwyl die ander een rekeningkunde studeer. Daar is ook planne vir ’n tweede huis by die jeugsentrum waar nog 16 dogters gehelp kan word.”

Sommige deelnemers sal ’n 620 km-grondpadroete aflê wat deur dorpe soos Wepener, Zastron, Smithfield, Edenburg en Petrusburg loop en in Bloemfontein eindig. Ander sal ’n teerpad van twaalf uur aanpak met die doel om 900 km af te lê, deur Dewetsdorp, Wepener, Rouxville, Smithfield, Bethulie, Colesberg, Petrusville, Orania, Hopetown, Kimberley en Petrusburg, wat ook in Bloemfontein afsluit.

Jan-Harm van Wyk, ’n voormalige Cheetah- en Springbok-rugbyspeler wat ook aan die geleentheid gaan deelneem, moedig almal aan om die projek te ondersteun. “Ons weet almal dat die lewe … moeilik is, en kinders ervaar van jongs af uitdagings. Die minste wat ons kan doen, is om hulle te help om ’n beter toekoms te verseker.”

In 1996 het Van Wyk 24 drieë in ’n seisoen vir die Cheetahs gedruk en so die vorige rekord verpletter van 20 drieë wat Hermanus Potgieter in 1977 gestel het. Hy het ook die rekord vir die meeste Curriebeker-drieë in ’n seisoen twee keer opgestel: 14 in 1996 en 16 in 1997.


Om die projek te ondersteun, kan ’n mens ’n eenmalige skenking doen of die deelnemers per kilometer borg. Twee slaglammers is op die spel in ’n gelukstrekking.

Vir nog inligting of om ’n bydrae te maak besoek die Extreme Bikers Facebook-blad en help om ’n verskil vir die kinders in Therapéa te maak.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.