On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

Central SA

Mnr. SA-voorbereiding ‘ ’n lewenslange reis’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:30 Wed, 26 Jun 2024

Mnr. SA-voorbereiding ‘ ’n lewenslange reis’ | News Article
JP Coertze is die afgelope tien jaar ’n vlieënier. Foto verskaf

“Om vir ‘n kompetisie soos Mnr. SA voor te berei is ’n lewenslange reis net soos ek as kind daarvan gedroom het om te vlieg, droom ek van Mnr. SA.”

Nadat hy hom in 2021 weens tydsberekening en persoonlike verpligtinge aan die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie moes onttrek, hoop hy om vanjaar dié gesogte kroon te dra.

“Ek moes eers ’n paar dinge uitsorteer. Daar is ’n tyd en plek vir alles en ek voel nóú is my tyd," sê JP Coertze (34), wat in die top-30 van dié kompetisie is. Nadat inskrywings in Maart vanjaar geopen het, is die top-50-finaliste gekies.

Hy het al in Europa, Asië, Afrika en die Midde-Ooste gewerk. Foto verskaf

Die finaliste het ’n professionele fotosessie gehad en aan verskeie uitdagings, insluitend projekte op sosiale media, die verkryging van borgskappe, netwerkvorming en liefdadigheidsaktiwiteite deelgeneem. Dié foto’s is gebruik sodat die publiek vir hul gunstelingdeelnemers kon stem en JP is vierde op die lys van gunstelinge.

JP vertel sy deelname aan Mnr. Suid-Afrika 2024 is sy grootste projek vanjaar en hy glo dat hy ‘n verskil in jong mense se lewe kan maak.


“Ek het ‘n lang pad gestap tot waar ek vandag is, gevorm deur baie lewenslesse. Ons groei, leer en ontwikkel en dis belangrik dat ons altyd vorentoe moet beweeg. Met die jare het ek geleer om emosies en kennis tot my voordeel te gebruik.”

Volgens JP bly drome slegs drome tot ’n mens oorgaan tot aksie. Om sukses te behaal, vereis ’n weldeurdagte plan – ’n vyfjaarplan, ’n eenjaarplan en korttermynplanne wat oor een tot twee maande strek. “Die belangrikste plan is egter die daaglikse een. Wat jy elke dag doen, is noodsaaklik om jou drome te verwesenlik, en ek verstaan wat dit verg om dit ’n werklikheid te maak.”

JP was maar 23 toe hy sy handelsvlieënierslisensie gekry het, maar daarvoor moes hy ongeveer R1 miljoen hê.

JP Coertze spog met ’n handelsvlieënierslisensie. Foto verskaf

Deur baie harde werk, toewyding en die ondersteuning van mense wat vir hom omgee, is hy die afgelope tien jaar ’n vlieënier – ‘n droom van kleintyd wat waar geword het.

JP verdeel sy tyd tussen Ballito en Dubai met ‘n loopbaan wat hom neem na Europa, Asië, Afrika en die Midde-Ooste.

Hy is ook ’n ywerige eiendomsentoesias wat eiendomme bestuur en restoureer. Hy werk ook as ’n persoonlike afrigter en lewensafrigter wat mense help om hul gesondheid en ingesteldheid te verbeter.

JP Coertze glo hy kan mense inspireer. Foto verskaf

Indien hy met die kroon as Mnr. SA wegstap, glo JP dat hy ander mense kan inspireer en lei om hul drome na te streef.

“Om vir ‘n kompetisie soos Mnr. SA voor te berei, is ’n lewenslange reis,” vertel hy. “Dit neem jare vir die regte ingesteldheid en om iets te hê om terug te gee. Ek berei myself al jare voor met die wete dat ek Mnr. SA wil wees. Net soos ek as kind daarvan gedroom het om te vlieg, droom ek van Mnr. SA en hoe om ons mense na ’n suksesvolle toekoms te lei.”

In sy vrye tyd lees hy graag outobiografieë en boeke oor sake en selfontwikkeling. Hy geniet gholf, en spog met ’n voorgee van agt. Hy bring graag tyd op die strand en gimnasium deur en vang ook vis.

Die tien finaliste sal in Augustus aangekondig word. Die kroning is in November.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.