On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

Central SA

Moord in Noordwes-ouetehuis: Tweede bejaarde beskuldigde ook oorlede

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 06:52 Wed, 26 Jun 2024

Moord in Noordwes-ouetehuis: Tweede bejaarde beskuldigde ook oorlede | News Article
Die twee se borgaansoek sou Dinsdag (25/6) in die landdroshof op Brits voortgegaan het. Foto: The Citizen

“Inligting oor die dood van gevangenes word net aan hul naasbestaandes bekend gemaak.”

Die tweede bejaarde verdagte wat van die moord op ’n mede-inwoner in ’n ouetehuis by Brits in Noordwes aangekla word, is ook oorlede.

Daniel Madumo (92), ’n verdagte in ’n moordsaak, is Maandag (25/6) oorlede, enkele dae nadat sy medebeskuldigde in die saak, Jeremia Mmatli (75), Donderdag (20/6) in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria gesterf het.

Die oorsaak van albei bejaarde verdagtes se dood is nie bekend gemaak nie, maar Mmatli is Saterdag vanaf die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria na ’n hospitaal buite die gevangenes oorgeplaas nadat hy “komplikasies met sy gesondheid ervaar het”, sê Singabakho Nxumalo, DKD-woordvoerder.

Nxumalo sê inligting oor die dood van gevangenes word net aan hul naasbestaandes bekend gemaak.

‘Beskuldigdes het nie gereageer toe hul name in die tronk uitgelees is nie’

Madumo en Mmatli is op 3 Junie in hegtenis geneem vir die moord op Godfrey Thema (80) en was sedertdien in aanhouding. Die verdagtes se borgaansoek is op Vrydag (21/6) in die Brits-landdroshof uitgestel nadat hulle versuim het om te verskyn, al was hulle in aanhouding, het Amanda Funani, Noordwes-polisiewoordvoerder, vroeër aan OFM Nuus gesê.

“Nie een van die beskuldigdes het gereageer toe hul name in die tronk uitgelees is nie, daarom is hulle nie na die hof gebring nie.”

Na bewering het ’n bakleiery omstreeks 04:00 tussen die verdagtes en die slagoffer ontstaan. Madumo en Mmatli het Thema, wat glo amper heeltemal blind is, na bewering vir ’n inbreker aangesien. Een van die verdagtes het glo die slagoffer met sy krukke begin slaan, waarna die ander verdagte na bewering ook die bejaarde man aangerand het.

Die eienaar van die ouetehuis is in kennis gestel, waarna die polisie ontbied is. Die rede vir die woordewisseling is nie bekend nie. Die slagoffer, wat kopbeserings opgedoen het, is per ambulans na die hospitaal geneem, maar is met sy aankoms dood verklaar.

Die twee se borgaansoek sou Dinsdag (25/6) in die landdroshof op Brits voortgegaan het. “Die hof sal nou moet besluit hoe die saak verder hanteer sal word,” sê Nxumalo.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.