On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Leeuwyfie twee keer geskiet in noodlottige aanval op werker by Bloemfontein

───   KEKELETSO MOSEBETSI 14:32 Tue, 25 Jun 2024

Leeuwyfie twee keer geskiet in noodlottige aanval op werker by Bloemfontein | News Article
Die leeus by Bagamoya Wildlife Estate. Foto: Facebook/Bagamoya

“Die DBV is voor die voorval na die plaas ontbied om ’n klag te ondersoek oor ’n gevange tier wat swaar loop.”

Die Vrystaatse polisie se ondersoek duur voort ná die tragiese dood van ’n plaaswerker wat Sondag (23/6) noodlottig deur ’n leeuwyfie op ’n wildplaas in Glen buite Bloemfontein aangeval is.

OFM Nuus het vroeër berig die polisie is na die toneel ontbied en het afgekom op Mataka Jere (43) se liggaam met ernstige beserings. Hy is op die toneel dood verklaar.

Luidens voorlopige berigte het Bloemfontein se DBV die leeuwyfie van kant gemaak. Dinsdag het Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder, egter gesê die leeuwyfie moes van kant gemaak word om Jere te probeer red. Nadat sy beseer is, is sy eers verdoof voordat ’n plaaswerker haar uitgesit het.

Thea Smit, waarnemende Bloemfonteinse DBV-voorsitter, het bewerings dat hul lede die leeuwyfie van kant gemaak het, weerlê. Die DBV is voor die voorval na die plaas ontbied om ’n klag te ondersoek oor ’n gevange tier wat swaar loop.

Die DBV is aanvanklik toegang geweier en moes ’n lasbrief bekom. By inspeksie het hulle na bewering ’n erg gekompromitteerde tier aangetref wat saam met twee leeus gehuisves is. Die tier is na ’n geakkrediteerde toevlugsoord verplaas vir mediese assessering.

Kort nadat hulle die tier verwyder het, is die DBV in kennis gestel van die aanval op Jere. Hulle het teruggehaas na die plaas en Jere se lyk steeds op die perseel gevind.


Die leeuwyfie wat by die aanval betrokke was, is twee keer met ’n kaliber .22-geweer geskiet deur ’n familielid van die wildplaas se bestuurder om Jere te probeer red.

Die gewonde leeuwyfie is later deur dieselfde familielid doodgeskiet met ’n .308-jaggeweer onder toesig van die Departement van Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake. Smit het beklemtoon dat die DBV nie die leeuwyfie doodgemaak het nie.


Smit beskryf die kampe as smerig vuil en onaanvaarbaar en sê die leeuwyfie het toegang tot Jere verkry deur ’n gat in die heining van haar kamp. Sy veroordeel die wrede praktyke by teelgeriewe in gevangenskap en beklemtoon die lyding wat dit vir roofdiere veroorsaak wat van hul natuurlike habitat ontneem word.

Smit maak melding van ’n voorval in April 2014, toe Begbie Hunter, ’n dokter van Jacobsdal, ook op Bagamoya Wildlife Estate deur ’n leeu aangeval is. Sy het haar innige meegevoel met Jere se familie en geliefdes betuig en haar diepe hartseer oor die tragiese lewensverlies uitgespreek.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.