Central SA
Ondertekening uitgestel om Orania onafhanklik te verklaar─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:48 Mon, 24 Jun 2024

“Ek is vol vertroue dat die ooreenkoms sal voortgaan en dat die ondertekening wel sal plaasvind. Die belangrikste vir ons is om dit gedoen te kry, nie om dit binne ’n sekere aantal dae gedoen te kry nie.”
Die Orania-verteenwoordigende raad (OVR) se ondertekening van sy ooreenkoms met die Noord-Kaapse regering is vir eers uitgestel.
Die VF Plus het vroeër ’n voorstel by die ANC in die Noord-Kaap ingedien vir die party om Orania se onafhanklikheid te erken. Ná afloop van die verkiesing het die ANC, wat nie ’n meerderheid in dié provinsie kon behaal nie, besluit om saam met die VF Plus te werk om dr. Zamani Saul weer as premier aan te stel.
Die ANC sê hy het die nasionale regering geraadpleeg oor die VF Plus se versoek.
Wynand Boshoff, Noord-Kaapse VF Plus-leier, sê die proses is vertraag weens die vorming van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) wat tans uitdagings oplewer. “Enige provinsiale ooreenkomste kan eers hanteer word ná afhandeling van nasionale kwessies.”
Wynand Boshoff. Foto: Facebook
Volgens Boshoff was daar in die media heelwat oordrewe weergawes van wat met die ooreenkoms bewerkstellig of beplan word.
“Dit laat dit klink asof iets tot stand kom wat nog nooit deel van die gesprek was nie, terwyl die hele gedagte van die ooreenkoms eintlik is om praktyke, werkwyses en ooreenkomste wat oor 20 of 30 jaar tot stand gekom het, in ’n verklaring saam te vat.
‘Dit bring nie iets nuuts tot stand nie’
“Met ander woorde, dit verander niks. Dit bring nie iets nuuts tot stand nie, maar dit bring wel bymekaar wat verspreid is oor ’n hele klomp praktyke en ooreenkomste oor baie jare.”
Hy beklemtoon dat almal nou geleentheid moet gee, ook mense binne die ANC se geledere, om rustigheid te kry oor wat hiermee beoog word.
“Ek is vol vertroue dat die ooreenkoms sal voortgaan en dat die ondertekening wel sal plaasvind. Die belangrikste vir ons is om dit gedoen te kry, nie om dit binne ’n sekere aantal dae gedoen te kry nie.”
Boshoff sê hulle is nie gebonde aan 14 dae wat die Grondwet toeken vir ’n nuwe regering om tot stand te kom nie. “Ons kan ’n bietjie terugsit en die ding ordentlik laat gebeur.”
OFM Nuus/Charné van der Merwe