Central SA
Sol Plaatje stel geriefliker betaalmetode bekend─── CASEY-LEE ANTHONY 12:40 Mon, 03 Jun 2024
“Deur digitale rekeningbetalings in te stel, verwag hulle om die lang toue te verkort.”
Munisipale verbruikers van Kimberley en omstreke kan uitsien na geriefliker rekeningbetalings nadat die Sol Plaatje-munisipaliteit met Easypay saamgespan het.
Easypay, ’n verskaffer van digitale betalingsoplossings wat ’n gerieflike en doeltreffender digitale rekeningbetalingsmetode vir inwoners moontlik maak, is Saterdag (1/6) in gebruik geneem.
Munisipale woordvoerder Thabo Mothibi sê hierdie nuwe diens maak voorsiening vir verskeie kontantlose betaalopsies, wat debiet- en kredietkaarte, oorbetalings en mobiele betalings insluit, maar inwoners moet eers op die munisipaliteit se webwerf registreer voor hulle aankope kan maak.
Mothibi sê deur digitale rekeningbetalings in te stel, verwag hulle om die lang toue, wat hoofsaaklik voorkom aan die einde van die maand of wanneer inwoners betaal word, te verminder.
Die munisipaliteit wil die algehele doeltreffendheid verbeter en ’n kontantlose en gerieflike ervaring bied.
“Deur ’n vinnige, betroubare en gebruikersvriendelike betaalmetode aan te bied, poog die munisipaliteit om algehele doeltreffendheid te verbeter en ’n kontantlose en gerieflike ervaring te bied,” voeg Mothibi by.
Die munisipaliteit oorweeg om hierdie digitale diens na ander gebiede van munisipale bedrywighede uit te brei.
Thapelo Matlala, munisipale bestuurder, verwelkom die tegnologiese vooruitgang. “Ons is verheug om hierdie nuwe digitale betaalstelsel in samewerking met Easypay bekend te stel.
‘Hierdie stelsel sal nie net betalingsdoeltreffendheid verbeter nie, maar ook kliëntetevredenheid’
“Hierdie inisiatief onderstreep ons voortdurende pogings om munisipale dienste te moderniseer en alledaagse take geriefliker te maak vir ons inwoners, veral die belastingbetaler. Ons glo dat hierdie stelsel nie net betalingsdoeltreffendheid sal verbeter nie, maar ook kliëntetevredenheid.”
Inwoners van Kimberley en die res van die munisipale gebied kan nou hul munisipale rekeninge aanlyn betaal deur die Easypay-platform.
Enige nuwe verwikkelings sal voortydig aan inwoners gekommunikeer word.