On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

#OFMElectionWatch: Opposisiepartye vra OVK om weer te tel

───   08:00 Sun, 02 Jun 2024

#OFMElectionWatch: Opposisiepartye vra OVK om weer te tel | News Article
Die ANC se voormalige sekretaris-generaal en ACT-leier, Ace Magashule. Foto: Kekeletso Mosebetsi

“’n Beswaar is by die OVK ingedien, en bedrogaanklagte is by die polisie gelê.”

Ace Magashule se African Congress for Transformation (ACT) het voor die verkiesing optimisme uitgespreek oor die oorname van die Vrystaat, maar maak aantygings van verkiesingsbedrog ná ’n swakker as verwagte uitslag. 

Die voortslepende sage rondom die asbessaak in April 2024 het aandag getrek, onder meer weens die politieke implikasies daarvan.

Die ACT het die OVK gevra om stemme oor te tel en moontlike bedrog te ondersoek. Magashule voer aan wydverspreide bedrog het voorgekom by talle stemlokale in die Vrystaat, Gauteng en Noordwes.

Hy sê ’n beswaar is by die OVK ingedien, en bedrogaanklagte is by die polisie aanhangig gemaak. ACT-lede se stembriewe het volgens hom uit die stembusse verdwyn, sonder enige geldige verduideliking van OVK-amptenare.

Vrystaatse premier Mxolisi Dukwana het vroeër Magashule se hoop om die Vrystaat te wen en in die meeste ander provinsies sleutelspelers te wees, as ’n “droom” afgemaak. Dukwana glo die ACT het geen verteenwoordiging nie en is bestem om ná die verkiesing te verdwyn.

News24 berig Magashule was eens deel van die “premierliga”, ’n magtige groep wat oudpresident Jacob Zuma gesteun het. Hy het egter na bewering verstrengel geraak in die Gupta-familie se skelmstreke en beweerde voorvalle van korrupsie in die provinsie. 

Nadat die ANC se gewese sekretaris-generaal uit die regerende party afgedank is, het die DA in die Vrystaat voorgestel dat Magashule as geskorste ANC-lid twee opsies het: om heeltemal uit die politiek te tree of met ’n nuwe party te begin. Magashule het uiteindelik die ACT gestig.

OVK-skermgreep

Die ACT het teen Sondag (2/6) om 08:00 daarin geslaag om net 18 338 (0,11%) stemme landwyd te werf, met 11 589 (1,39%) daarvan in die Vrystaat. Van die 837 188 stemme wat in die Vrystaat uitgebing is, het Zuma se MK-party 18 784 (2,26%) stemme gewerf.

Magashule het beweer die verkiesingsbedrog het in Mangaung, Maluti-a-Phofung, Kroonstad en Sasolburg in die Fezile Dabi-streek en verskeie ander gebiede plaasgevind. Soortgelyke voorvalle het na bewering ook in Soweto gebeur, beweer hy.

Die gewese ANC-sekretaris-generaal beweer baie stembusse is leeg gevind, hoewel kiesers reeds hul stemme in daardie stasies uitgebring het.

‘ACT-stemme aan ActionSA gegee?’

Magashule het beweer in sommige gevalle is ACT-stemme deur die OVK-amptenare aan ActionSA gegee. Toe ACT-partyagente dit bevraagteken, is hulle na bewering deur die OVK-personeel meegedeel dat hulle gedink het ACT is ActionSA. “Ons stemme word aan ActionSA gegee, hier is eenvoudige manipulasie. Ek sê nie bewerings nie, want wat ons sê, is ‘ernstige bedrog’,” het Magashule gesê.

“Die resultate kan nie net bekend gemaak word nie, ons gee die OVK geleentheid om dit reg te stel en ons wil hê al hierdie dinge moet in die openbaar reggestel word.

“Dit is ernstig, dit is nie net bewerings nie, dit is feite en ons sal dit deur video's bewys, ons sal dit deur polisiesake bewys. Ons sê eintlik kom ons toets een (stem)stasie waar die hele gemeenskap geraak word. Die bokse is daar maar daar is nie stembriewe nie, waar is die stembriewe vir spesiale stemme in sommige dele van die Vrystaat, dit is nie daar nie. Hulle moet daar wees en deur voorsittende beamptes onderteken word,” het Magashule gesê.

‘Geen manier dat ACT so min stemme in Mangaung gekry het nie’

“Daar is geen manier dat in Mangaung, uit 134 000, ons net 890 stemme kon kry nie. Dit is ons vesting – die hele land sal verras wees,” het Magashule gesê.

Die ACT-party het Vrydag ’n beswaar by die OVK ingedien met betrekking tot die verkiesingsproses. “Ons wil hê die OVK moet alles oopmaak en oortel,” het Magashule gesê.

Briefly News het met professor Zwelinzima Ndevu van die Skool vir Bestuur aan die Universiteit Stellenbosch gesels om meer insig te kry. Die professor het gesê hy is nie verbaas dat Ace Magashule geen impak in die Vrystaat gemaak het nie.

“Toe hy gewild was, was hy gewild in die ANC. Sy gewildheidsbasis was eintlik in sy tuisdorp gebaseer en nie in die provinsie nie, en daarom het ons gesien dat daar geen werklike impak is wat hy gemaak het nie,” het professor Ndevu gesê.

“Ek dink hy het baie van homself gedink. Hy het gedink hy het invloed buite sy tuisdorp gekry en dit is nie die geval nie.” Ndevu het verder gesê dat die resultate weerspieël dat Magashule relatief goed gevaar het in Parys, wat sy tuisdorp is. “Maar as jy na die provinsie kyk, het hy nie so goed gevaar nie.”

‘ANC verloor volstrekte meerderheid’

Die regerende ANC het landwyd die volstrekte meerderheid verloor wat hy drie dekades geniet het. Dit is ’n geskiedkundige keerpunt vir Suid-Afrika, aangesien die party ’n volstrekte meerderheid geniet het sedert 1994, toe Nelson Mandela die nasie uit wit-minderheidsheerskappy na demokrasie gelei het.

Die ANC moet nou koalisievennote soek om genoeg steun te kry om ’n president aan te wys en ’n regering te vorm.

Terwyl stemme steeds geverifieer word (99,89% voltooi), toon data van die OVK die DA beklee die tweede plek. In die derde plek is oudpres. Jacob Zuma se MK Party – ’n verrassende prestasie vir ’n party wat enkele maande gelede gestig is as ’n voertuig vir die voormalige ANC-hoof. Die EFF is vierde.

In ’n stampvol konvensiesentrum noord van Johannesburg waar die OVK die uitslae bekend maak, het die MK gesê hy “sal nie in ’n gesprek met die ANC tree nie” solank as wat Ramaphosa die leier is. “Ons sal met die ANC beraadslaag, maar nie die ANC van Cyril Ramaphosa nie.”

Die finale uitslae word Sondag (2/6) verwag, terwyl politici en kenners hul aandag nou fokus op die vooruitsigte van ’n koalisie onder die ANC se aanvoering.

OFM Nuus mc/cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.