On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Regstappe teen Noord-Kaapse LUR ingestel weens kliniek se lêers in veld

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:21 Thu, 23 May 2024

Regstappe teen Noord-Kaapse LUR ingestel weens kliniek se lêers in veld | News Article
Maruping Lekwene. Foto: People’s Assembly

“Daar is ook ’n baba oorlede nadat ’n ambulansdiens nie op oproepe gereageeer het nie.”

’n Strafregtelike klagte is teen die Noord-Kaapse LUR vir Gesondheid ingedien weens swak mediese diens asook die onwettige hantering van persoonlike mediese inligting.

Andrus Strauss, #Hope4SA-party se premierskandidaat en ’n inwoner van Upington, het Woensdag (22/5) die klag teen LUR Maruping Lekwene in Kimberley aanhangig gemaak.

Mediese lêers met persoonlike inligting van pasiënte is die afgelope maand in ’n veld langs die 8SAI-weermagbasis in Upington gestort, waar Strauss daarop afgekom het.

Mediese lêers van pasiënte van die Upington-kliniek lê gestrooi in ’n veld langs die 8SAI-weermagbasis. Foto verskaf

Die dokumente bevat vertroulike inligting soos individue se volle name, vanne, ID-nommers en ander belangrike gegewens. “Dit is ’n ernstige oortreding van hul regte en veroorsaak onherstelbare skade aan die privaatheid en waardigheid van die betrokke persone,” sê Strauss.

Lekwene word aangekla van beweerde nalatigheid en oortredings van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA). ’n Klag van moord is ook aangevra ná die dood van die bejaarde Kimberliet Jan Kruger (86). Kruger is oorlede weens ’n belangrike operasie wat meermale uitgestel is omdat die hospitaaltoerusting nie gewerk het nie, die kragopwekker onklaar was en eindelik die onbeskikbaarheid van ’n narkotiseur.

Volgens Strauss is ’n baba, Elrico Sello, ook oorlede nadat ’n ambulansdiens nie op oproepe gereageer het nie.

“Dit is beduidende tekens dat die gesondheidstelsel in die Noord-Kaap ineenstort en dit kan nie net oorgesien word nie.”

Andrus Strauss, #Hope4SA-party se premierskandidaat.

Strauss sê hulle is reg met omvattende bewyse en getuieverklarings, om ’n sterk saak te lewer. “Hierdie beslissende stap onderstreep die #Hope4SA se vasberadenheid om diegene wat hul verantwoordelikhede nalaat en openbare gesondheid en veiligheid in gevaar stel, aanspreeklik te hou.”

#Hope4SA het die verantwoordelikheid aanvaar om vir die mense te baklei, gevalle van owerheidsnalatigheid uit te lig en vinnige optrede in alle mediese gevalle te eis, sê Strauss. “Die dringendheid van hierdie saak kan nie onderskat word nie, en #Hope4SA dring daarop aan dat dit stiptelik en in ooreenstemming met die wette van Suid-Afrika aandag kry.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.