Central SA
George-ramp: ‘Dis eintlik goeie nuus dat ons verkeerd was’─── 15:33 Fri, 17 May 2024
“Dit is baie waarskynlik dat sommige werkers weggehardloop het toe die gebou begin ineenstort. Vyf mense het sedertdien erken hulle was nie die dag van die ineenstorting op die terrein nie, al was hul naam op die lys.”
Die konstruksieterrein in George, waar ’n halfgeboude struktuur verlede Maandag ineengestort en 33 lewens geëis het, is Vrydag aan die polisie oorhandig vir ondersoekwerk. Die terrein in Victoriastraat is nou in die hande van die polisie en die Departement van Arbeid.
Uit die 29 mense wat daarin geslaag het om lewend te ontsnap, is tien slagoffers steeds in die hospitaal en 19 is óf ontslaan óf het mediese behandeling op die terrein ontvang, sê. Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Ontwikkeling.
“Die soek-en-reddingspan het briljante werk gedoen. Hulle het 34 mense gered. Dit is ’n 54,8%-reddingskoers. Ons is baie trots op die soek-en-reddingspan, veral as ’n mens dit vergelyk met wêreldstandaarde ná aardbewings, waar dit 10% is, as hulle gelukkig is.”
Bredell het verduidelik die getalle is weereens hersien: Toe die gebou ineengestort het, het rampbestuur na 75 mense gesoek. Dit is na 81 hersien. Tot op hede kan rekenskap van 62 werkers gegee word.
Bredell sê dit is hoogs waarskynlik dat sommige werkers weggehardloop het toe die gebou begin ineenstort. Vyf mense het sedertdien erken hulle was nie die dag van die ineenstorting op die terrein nie, al was hul naam op die lys.
“Die syfers het baie gewissel. Dit was nie ons skuld nie; dit was die kontrakteur – ons het gesukkel om die name te kry, want net mense se byname was bekend. Ons het ’n gesprek met die ambassade gehad en hulle het verduidelik mense verander nogal dikwels hul name.
Visited the George construction disaster site and met with the many brave men and women who rushed to the scene immediately and worked tirelessly to on a search, rescue and recovery operation that has lasted several days. pic.twitter.com/ksXiH5j59j
— Cyril Ramaphosa ???? (@CyrilRamaphosa) May 16, 2024
“Ons was eerlik met die syfers. Tans is ek bly dat ons nie nog na 19 lyke soek nie, want die terrein is leeg. Ons het ons werk gedoen. Dit is dus eintlik goeie nuus dat ons syfer van 81 verkeerd was.
“Dit is steeds hartverskeurend vir die 33 gesinne wat hul geliefdes verloor het, maar uit ’n soek-en-reddingsoogpunt is ons net dankbaar dat ons nie na nog 19 lyke soek nie. Slegs twee van dié 33 is nog nie geïdentifiseer nie.
“’n Mens moet onthou dat talle van hierdie werkers onwettig op die terrein gewerk het,” het hy gesê.
Alle reddingswerk is gestaak en tans word werk toegespits op die stabilisering van ’n baksteenmuur naby ’n aangrensende eiendom en die verwydering van die laaste boumateriaal. Vir plaaslike inwoners sal daar ’n mate van verligting wees aangesien die nagskofte sal ophou, waarna werk net tydens kantoorure gedoen word.
Colin Deiner, hoof van rampbestuur in die Wes-Kaap, het aan SABC gesê die terrein moet beveilig word, voordat dit oorhandig kan word.
Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag die rampterrein besoek saam met, Alan Winde, Wes-Kaapse pemier, en verskeie ministers.
President @CyrilRamaphosa has arrived at the Garden Route District Municipality offices in the Western Cape; received by @WesternCapeGov Premier Alan Winde, @HomeAffairsSA Minister Aaron Motsoaledi, @deptoflabour Minister Thulas Nxesi, @NationalCoGTA Minister Thembi Nkadimeng and… pic.twitter.com/phgl5gI611
— The Presidency ???? (@PresidencyZA) May 16, 2024
Ramaphosa het aan naasbestaandes van die slagoffers van die ineengestorte woonstelgebou in George gesê daar sal bystand wees vir diegene wat begrawe moet word, asook vergoeding waar dit nodig is. “Ons wil nie die las en die lyding waardeur u gaan vererger nie,” het die president gesê.
Ramaphosa het gesê die regering het onlangs die repatriasie van 45 Botswana-burgers hanteer wat in ’n busongeluk in Limpopo dood is.
Hy het gesê die hantering van die ongeluk toon die regering se vermoë om groot rampe te hanteer.
Intussen sê die ontwikkelaars op die terrein in George hulle sal saamwerk met owerhede wat betrokke is by die ondersoek na die tragedie.
Liatel-ontwikkelaars sê in ’n verklaring hulle het verseker dat hulle verteenwoordigers by die rampterrein het om te help met reddingspogings. Theuns Kruger, besturende direkteur, het ook sy meegevoel betuig met die families en die slagoffers van die tragedie.
OFM Nuus ch/mvh