Central SA
Verdagtes vas ná grusame plaasmoord op Vrystaat-egpaar─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:24 Sat, 11 May 2024
“Die span het na ’n gastehuis in Bloemhof gegaan waarna die twee verdagtes, 39 en 26 jaar oud, om 23:00 in hegtenis geneem is. Die egpaar se selfone was in hul besit.”
Twee verdagtes is in hegtenis geneem rakende die gruwelike plaasmoord op ‘n bejaarde egpaar net buite Bloemfontein.
Op Vrydag (10/5) omstreeks 14:00 het die Vrystaatse provinsiale eenheid vir ernstige geweldsmisdaad inligting ontvang oor waar die gesoekte verdagtes, wat van die grumoorde op die bejaarde Morrison-egpaar beskuldig word, hulle bevind, sê polisiewoordvoerder sers. Mahlomola Kareli.
“Die span wat saam met Welkom se Taktiese Reaksie-eenheid werk, het na ’n gastehuis in Bloemhof gegaan waarna die twee verdagtes, 39 en 26 jaar oud, om 23:00 in hegtenis geneem is. Die egpaar se selfone was in hul besit.”
Die liggame van Christo Morrison (76) en sy vrou, Christa (73), van die plaas Rietfontein by Glen, sowat 25 km van Bloemfontein, is Saterdag (4/5) op die plaas ontdek.
Die buurman kon die egpaar sedert Vrydagmiddag nie op hul selfone in die hande kry nie, waarna die polisie gekontak is om ondersoek in te stel.
Kareli het vroeër aan OFM Nuus gesê met hul aankoms op die plaas het die polisie na die plaashuis gegaan en gesien dat die deure van die plaashuis oop was. Daar was ook bloed op die vloer opgemerk en die huis was deurmekaar.
’n Soektog na die verdagtes is van stapel gestuur, asook na die bejaarde egpaar, aangesien hul liggame nie in die huis gevind is nie. Hul voertuig, ’n Toyota Land Cruiser, is naby Majwemasweu by Brandfort gevind.
Christo se liggaam is sowat 300 m van die plaashuis gevind, en sy vrou, Christa, se liggaam in ’n septiese tenk op die plaas.
Die twee verdagtes sal binnekort in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn vir huisroof en die twee moorde.
Lt-genl. Baile Motswenyane, provinsiale kommissaris van die Vrystaat, het die uitstekende ondersoekwerk van die span geloof en die talle oproepe wat ontvang is met inligting van die gemeenskap oor die aangeleentheid waardeer.