On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Thys die Bosveldklong steeds in waakeenheid

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:51 Fri, 26 Apr 2024

Thys die Bosveldklong steeds in waakeenheid | News Article
Thys die Bosveldklong. Foto: Facebook

“Die siekte is vroeg in 2019 by hom gediagnoseer, nadat hy vier jaar lank simptome ervaar het.”

Hy is reeds drie weke gelede in ’n hospitaal in die Suid-Kaap opgeneem, nadat hy ’n beroerte by die huis gehad het, maar die Afrikaanse sanger veg nou om sy lewe in die waakeenheid.

Thys Streicher (49), bekend as die gewilde Thys die Bosveldklong, is Woensdag (24/4) in die waakeenheid opgeneem nadat hy ’n terugslag gehad het, sê sy ma Elize, wat omsien na haar seun sedert sy diagnose.

Thys het bekendgestaan as die grapperige, lawwe sanger met sy energieke vertonings, maar agter die kollig het ’n stryd egter gewoed, ’n stryd teen ’n meedoënlose vyand: veelvuldige sklerose (MS).

Die siekte is vroeg in 2019 by hom gediagnoseer, nadat hy vier jaar lank simptome ervaar het. Veelvuldige sklerose is ’n chroniese outo-immuunsiekte wat die sentrale senuweestelsel aantas en lei tot ’n magdom uitdagings, soos moegheid, spierswakheid en probleme om te beweeg.

Thys die Bosveldklong. Foto: Facebook

Volgens Elize het Thys se toestand die laaste paar weke vererger terwyl sy organe swaarkry. Nog ’n beroerte het bygedra tot verdere uitdagings. Hy het ook intussen nierversaking gekry en gedurende sy tyd in die hospitaal het hy ’n virusinfeksie in sy brein gehad.

Elize vertel dat sy noustrop trek en sukkel om die pot tuis aan die kook te hou. “Op hierdie stadium is my grootste wens dat ek Thys se seun (12), wat op Plettenbergbaai woon, na sy pa toe kan vlieg. Hulle het mekaar twee jaar laas gesien.”

Thys het in 1999 begin sing onder die verhoognaam Thys die Bosveldklong. Sy treffers sluit in “Jaloers Bokkie”, “Ek hou nie van werk nie” en “In die middel”. Hy was ook medeaanbieder van kykNET se program Net vir die Grap.

Thys die Bosveldklong was bekend vir sy grappige vertonings. Foto: Facebook

Hy het egter bekendheid verwerf, nadat hy die medeaanbieder was van die gewilde Maak ’n las.

“Die pad vorentoe is onseker, belaai met uitdagings en struikelblokke wat nog oorkom moet word, maar ek glo Thys gaan gesond word. Ek weet die Here sal hom hierdeur dra,” sê Elize.

Indien jy op enige manier ’n bydrae wil maak, bel Elize by 072 225 3704.

OFM Nuus/Charné van der Merwe dg/mc/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.