On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico
Listen Live Streams

Central SA

Siemens-huurmoord: Bakili eindelik skuldig bevind

───   14:12 Fri, 12 Apr 2024

Siemens-huurmoord: Bakili eindelik skuldig bevind | News Article
Stanley Bakili is skuldig bevind aan die moord op Louis Siemens. Foto: Skermgreep

“Die vier beskuldigdes wat nou vrygelaat is, beplan na bewering om die staat te dagvaar.”

Ses jaar nadat die uitvoerende hoof van die CityMed-hospitaal in Bloemfontein in die Prellerplein-kelderparkering in ’n huurmoordaanval doodgeskiet is, het die beskuldigde baasbrein eindelik Donderdag (12/4) in die Hooggeregshof aan die pen gery. Die aanklagte teen sy medebeskuldigdes is egter laat vaar.

Stanley Bakili is Donderdag (11/4) skuldig bevind en sal na verwagting Vrydag in die Bloemfonteinse Hooggeregshof gevonnis word.

Bakili, die voormalige sakeman, is die enigste van agt aanvanklike verdagtes wat uiteindelik skuldig bevind is aan dié moord, sameswering om moord te pleeg, afpersing, geldwassery en die onwettige besit van ’n vuurwapen. 

Luidens die klagstaat teen Louis Siemens het hy sedert 2015 meer as R5 miljoen se omkoopgeld aan Bakili oorbetaal om lisensies te bekom om die daghospitaal uit te brei. Die verhouding tussen Siemens en Bakili het egter versuur.

Siemens is op 10 Mei 2018 vier keer geskiet deur die huurmoordenaar Xolisile Botha Mbebeto en is op die toneel dood verklaar.

Mbebeto is skuldig bevind aan moord en het later ’n staatsgetuie geword nadat hy glo nooit die beloofde R250 000 betaal is nie. Hy het erken dat Bakili, wat op die dag van Siemens se moord in hegtenis geneem is, die baasbrein agter die huurmoord was en hom gehuur het om Siemens te vermoor. Hy het ook tydens die verhoor getuig dat hy doodsdreigemente in die gevangenis ontvang.

OFM Nuus het in 2019 berig dat ’n voormalige Grootvlei-gevangene, Manelisi Mpuru, in die hof erken het dat hy as tussenganger opgetree het in die vervoer van ’n dreigbrief aan Mbebeto. In dié handgeskrewe brief, wat die moordbeskuldigde Stanley Bakili ontken dat hy ooit geskryf het, het hy na bewering gedreig om Mbebeto sowel as sy meisie en sy dogter te laat vermoor, sou hy voortgaan met sy getuienis as staatsgetuie.

Agt verdagtes is aanvanklik in hegtenis geneem. Die aanklagte is teen twee beskuldigdes laat vaar, terwyl die Bayswater-speurder Molebatsi Mogoera in aanhouding dood is. Die oorblywende vyf beskuldigdes het in aanhouding gebly. Die vier beskuldigdes wat nou vrygelaat is, beplan na bewering om die staat te dagvaar.

Die name van die ANC se voormalige sekretaris-generaal Ace Magashule en ander hoës is ook destyds ingetrek by dié hoëprofiel-omkopings-en-moordondersoek wat in die Vrystaat afgespeel het.

Die voormalige minister van Gesondheid en huidige minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, was tydens die moordverhoor vasbeslote dat hy nog nooit Bakili ontmoet het nie, wat nog te sê van omkoopgeld van hom ontvang het.

Motsoaledi het verder volgehou die kwessie van hospitaallisensies lê by die provinsiale gesondheidsdepartement en nie sy kantoor nie.

Twee staatsamptenare en 'n plaaslike sakeman het reeds hiervan getuig. Die staatsamptenare – voormalige Vrystaatse LUR vir Gesondheid Benny Malakoane en Pinky Belot het albei getuig dat Motsoaledi geen rol in die saak het nie, maar beide Siemens en Bakili het tydens hul vergaderings belangstelling uitgespreek om met die Minister te praat.

OFM Nuus cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.