Central SA
Jong wewenaar van Ventersdorp kyk vorentoe ná soveelste terugslag─── KAREN VAN DER BERG 10:01 Fri, 08 Mar 2024

“Stoffel is ’n mens met ’n hart van goud. Hy is altyd bereid om ander in nood te help, al het hy self min.”
Die laaste paar jaar was besonder moeilik vir Stoffel Cordier (34) en sy seuntjie, Christoff (8). Hul huis met al hul besittings is op 28 Februarie in ’n brand verwoes. Maar dit is nie die enigste teëspoed wat hulle al getref het nie.
Stoffel se vrou, Gerda, en hulle babadogtertjie, Allié, het in Mei in 2018 in ’n motorongeluk gesterf. Hy het daarna begin om op ’n erfplaas te boer. Drie jaar later, in Augustus 2021, was Stoffel self in ’n ernstige ongeluk betrokke.
Met hulle terugkeer was die huis in ligte laaie en was dit te laat om iets te red. Foto verskaf
Hy was weke lank in ’n koma en drie maande in die hospitaal. Hy het ook permanente skade aan sy heupe opgedoen en albei heupe moet eintlik vervang word. Hulle het nie ’n mediese fonds nie.
Hy weier egter dat die jongste tragedie – die brand, wat sy huis en alles wat hulle besit vernietig het – sy moed breek. Stoffel, wat sowat 25km buite Ventersdorp boer, se groot vreugde is steeds sy seun. Hy is ook verloof aan Linda Peter en hulle hou mekaar staande.
Dit is nog nie bekend hoe die brand ontstaan het nie. Foto verskaf
“Die brand was ’n groot skok. Dit is nie iets wat ’n mens ooit verwag nie,” vertel hy. Dit is nog nie bekend hoe die brand ontstaan het nie. Niemand was tuis nie. Hy, Christoff en Linda was op Ventersdorp vir ’n vergadering. Daarna het hulle by vriende gaan eet en is toe huis toe. Met hulle terugkeer was die huis in ligte laaie en was dit te laat om iets te red.
“Dit gaan goed met ons onder die omstandighede,” sê hy. Die gemeenskap is vir hulle baie goed. “Hulle doen baie meer as wat ons ooit sou gedink het. Dit is ongelooflik. ’n Mens kan dit nie beskryf nie.” Hy wil nie name noem van mense wat help nie, want hy is bang hy laat iemand weg.
“Maar van vriende, familie tot vreemdelinge staan ons by. Ons het al huisware, beddegoed en klere gekry. Ons dankbaarheid ken geen einde nie.”
Die huis op hulle erfplaas is heeltemal in ’n brand verwoes. Foto verskaf
Stoffel sê hoewel dit swaar gaan, veral ná die laaste jare se uitdagings en beproewings, kyk hy net na dit wat voorlê in die toekoms en brand hulle liggies helder. “Ek wil net graag vir Linda en Christoff kan sorg en vir hulle ’n tuiste bied.”
Vriende het ’n BackaBuddy-veldtog begin. Daar word nog heelwat boumateriaal benodig sodat hulle ’n nuwe huis kan bou. Die beskrywing van die veldtog lui: Stoffel is ’n mens met ’n hart van goud. Hy is altyd bereid om ander in nood te help, al het hy self min. Kom ons help hom.