On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Onrus lê Vrystaatse landboudorp lam

───   KEKELETSO MOSEBETSI 12:57 Tue, 27 Feb 2024

Onrus lê Vrystaatse landboudorp lam | News Article
Die Gekombineerde Skool Steynsrus het eers Dinsdag weer aktiwiteite hervat. Foto: Facebook

“Sentraal tot hul griewe is die indiensneming van meer as 100 werkers wat in Desember 2023 aangestel is.”

(Click here for the English article.)

Nog ’n Vrystaatse dorp en sy mense ly weens die gevolge van onrus, wat onder meer gelei het tot die ineenstorting van dienslewering en die sluiting van skole.

Die onstuimigheid is veral weens die beweerde onwettige indiensnemingspraktyke wat wydverspreide verontwaardiging en betogings tot gevolg het. Die strate van Steynsrus in die Moqhaka-munisipaliteit het ontaard in arenas van onenigheid, aangesien inwoners die afgelope twee maande die strate ingevaar het om hul ontevredenheid te kenne te gee oor wat hulle as nepotisme en korrupsie in die munisipaliteit beskou.

Meer as honderd werkers is in Desember aangestel, waaroor talle inwoners en selfs sommige raadslede ongelukkig was omdat hulle nie deel van die aanstellingsproses was nie. Die betogings het verlede maand toegeneem, wat dienste in Steynsrus geaffekteer het.

Meer as 400 wonings in Steynsrus is boonop Donderdag 7 Desember 2023 deur ’n swaar storm verwoes. Foto: X/twitter.com

Skole op die dorp word gedwing om toe te bly, terwyl plaaslike ondernemings, wat reeds met uitdagings worstel wat deur ’n onseker ekonomiese klimaat geskep word, ook gekonfronteer word deur die bykomende las van langdurige sluitings en beurtkrag. Krag- en watervoorsiening ly ook onder die onrus.

OFM Nuus het ’n navraag aan die munisipaliteit en die Vrystaatse Onderwysdepartement gestuur.

’n Gr. 11-leerder aan die Gekombineerde Skool Steynsrus het na OFM Nuus uitgereik en frustrasie en kommer uitgespreek oor die onrus wat gelei het tot die sluiting van hul skole. Drie van die vier skole op Steynsrus bly steeds gesluit. Die Gekombineerde Skool Steynsrus het vandag eers geopen.

“Ons ken nie die kwartaal se werk nie, maar ons word gedwing om toetse te skryf sonder enige kennis van wat aan die gebeur is”

“Steynsrus het sedert 17 Januarie omstreeks agtuur saans ’n waterkrisis,” sê Mosa Khasudi. “Sedertdien sukkel ons om water te kry. Die afgelope paar weke [byna ’n maand later] het hulle besluit het weer die water te laat loop. Daardie week, op Vrydag die 19de om middernag, het die woedende inwoners die elektrisiteit vir die hele Steynsrus afgesny. Die inwoners het ons toe gedreig om nie skool toe te gaan nie.

“Ons skoolhoof het besluit dat aangesien ons nie normale skool het nie, ons dan ekstra klasse moet bywoon. En dit het weer probleme veroorsaak. Hoekom moet ons aanhou skoolgaan terwyl die kinders van Matlwangtlwang nie skool bywoon nie.”

Sy sê pogings is aangewend met ekstra klasse, maar die gemeenskap het hulle aangesê om op te hou skool bywoon en by die huis te bly. Hulle moet volgende week met hulle eksamens begin, maar hulle het weens veiligheidskwessies nie klasse bygewoon nie.

“Op die oomblik kan ons nie klasse bywoon nie en party van ons is regtig gestres”

“Ons ken nie die kwartaal se werk nie, maar ons word gedwing om toetse te skryf sonder enige kennis van wat aan die gebeur is. Op Maandag 19 Februarie is ons normaalweg terug skool toe met die wete dat die inwoners nog baklei.

“Die skoolhoof het daarop aangedring dat ons die skoolterrein teen halfeen die middag verlaat, maar nog voor die laaste klok kon lui, was al die inwoners van Matlwangtlwang binne die skoolterrein om te eis om die skoolhoof te ontmoet en ons het baklei vir skoolbywoning.

“Op die oomblik kan ons nie klasse bywoon nie en party van ons is regtig gestres aangesien ons in die VOO-fase is.”

Inwoners van die dorp is nou daagliks op straat om hulle frustrasie te lug. Die polisie moet nog bevestig of enigeen tot dusver in hegtenis geneem is.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.