Central SA
Meisie se verdwyning raak mense aan; soektog duur voort─── 10:18 Mon, 26 Feb 2024

“Ek is dankbaar vir alle ondersteuning. Dis so moeilik om die pyn op my seunskind se gesig te sien. My vertroue is dat die Here die seer in ons familie sal laat verbygaan.”
Lanklaas het die verdwyning van iemand mense só aangeraak.
Vandag, presies ’n week gelede, het Joshlin Smith (7) by die Middelpos-woongebied, in Diazville, Saldanhabaai (Weskus), weggeraak.
Dié betrokke Maandag van haar verdwyning, was sy by haar ma, Kelly Smith, se vriend omdat sy siekerig gevoel het. Nadat Kelly van die werk teruggekeer het, het sy by hom gehoor dat Joshlin laas buitekant hulle huis gespeel het. Dit was die laaste keer wat daar iets van haar gehoor is.
Die Middelpos-woongebied: Foto: Google-skermgreep
Selfs nadat ’n polisiehelikopter ingespan is, het dit niks opgelewer nie. Die polisie het Donderdag ’n verlate sinkhok in die Middelpos-omgewing in ’n vlak graf of gat ontdek. Dit is oopgemaak, maar daar was geen spoor van haar nie.
Jose Emke (Joshlin se biologiese pa) en Kelly was voorheen in ’n verhouding. Hy woon op Concordia in die Noord-Kaap. Hy het Sondag aan OFM Nuus vertel dat hy nie vinger kan wys na Joshlin se stiefpa nie. Hy wil net graag na Saldanhabaai gaan om na sy dogtertjie te help soek.
#MCSAMissing
— Missing Children SA (@072MISSING) February 20, 2024
Joslin Smith (7) was last seen 19 February 2024
If you personally, or your company | or your place of work, would like to make a donation to #MCSA, please click here to donate: https://t.co/cjFxxi4knV pic.twitter.com/J12sdHFdnI
Omdat hy werkloos is en aan epilepsie lei, is daar die naweek begin om fondse in te samel vir sy rit na Saldanhabaai. Die publiek het hom intussen baie mooi ondersteun en hy hoop om voor Woensdag te reis.
Jose se ouma, Magrieta Emke (81), het gesê dat sy steeds sterk glo dat Joshlin gevind sal word.
Die Middelpos-woongebied: Foto: Google-skermgreep
“Ek is dankbaar vir alle ondersteuning. Dis so moeilik om die pyn op my seunskind se gesig te sien. My vertroue is dat die Here die seer in ons familie sal laat verbygaan. Daar sal iets gebeur en die skuldiges sal later self na vore kom. Ek haat egter niemand nie en vat die vrede in my hart.”
*Teen Maandag (26/2) was daar nog geen teken van of leidraad oor Joshlin se geheimsinnge verdwyning nie.