Central SA
Riebeeckstad: Bestuurder glo by vulstasie gewaarsku oor bus se band─── 16:03 Wed, 07 Feb 2024
Politieke partye eis “beter paaie” van Vrystaatse regering.
Die bus wat in die noodlottige ongeluk betrokke was waarin skoolmeisies van die Hoërskool Riebeeckstad Dinsdag (6/2) gesterf het, se wiel het glo reeds op pad na die skoolkamp probleme gegee, beweer ouers op die skool se Facebook-blad.
“Hierdie einste bus het Maandag ’n gebarste band gehad op pad kamp toe,” skryf ’n ouer. “Die mense by die vulstasie het die bestuurder van die band vertel. Toe bars dieselfde (wiel se) band op pad terug.”
“Die kinders het foto’s van die band geneem, maar is geïgnoreer,” skryf ’n ander ouer.
Die bus het sowat 30 km buite Ventersburg omgeslaan. Ses leerlinge is oorlede. Die name van die oorledenes is nog nie amptelik bekend gemaak nie en die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.
‘Vrystaters moet saamstaan vir beter paaie’
Politieke partye het hul medelye betuig met die slagoffers van die busramp se geliefdes en terselfdertyd hul misnoeë uitgespreek oor die toestand van paaie in die Vrystaat.
“Die verlies van jong lewens is ’n massiewe ramp en ongelooflike pyn en lyding vir ons provinsie,” sê Patricia Kopane, Vrystaatse voorsitter van ActionSA. “Dit is tyd dat die mense van die Vrystaat saamstaan vir beter paaie en veiliger lewensomstandighede vir almal. Ons doen ’n beroep op die Vrystaatse Departement van Paaie en Vervoer om ons paaie reg te maak en in stand te hou.”
Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier, sê sy party het al voorheen gevra dat die pad tussen Warden en Vrede herstel word, ná die afsterwe van ’n onderwyser in 2021.
“Dit is nie duidelik of die toestand van die pad bygedra het tot die busongeluk nie, maar dit is die verantwoordelikheid van die provinsiale regering om toe te sien dat die toestand van paaie nie bydra tot onnodige lewensverliese nie.”
Die DA het ook sy meegevoel met die skoolhoof, personeel, ouers en leerlinge uitgespreek. “Dit is ’n tragiese ongeluk, en woorde kan skaars die diepte van ons simpatie oordra,” sê Mariette Pittaway, DA-woordvoerder oor gesondheid en onderwys.
OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg