On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Skool vir dowes in Noordwes geloof vir geskiedkundige prestasie

───   KEKELETSO MOSEBETSI 10:06 Thu, 01 Feb 2024

Skool vir dowes in Noordwes geloof vir geskiedkundige prestasie | News Article
Onderwysers en 2023 matriekleerlinge van die Skool vir Dowes in Noordwes. Foto: Facebook

“Hierdie 66%-slaagsyfer is ’n baken van hoop, nie net vir die skool en sy leerders nie, maar vir die dowe en hardhorende gemeenskap dwarsoor die provinsie.”

Die 66%-slaagsyfer wat deur Noordwes Skool vir Dowes se 2023-matrikulante behaal is, word beskryf as ’n geskiedkundige prestasie.

Hierdie prestasie moedig groei aan, aangesien die skool beduidende uitdagings oorkom waardeur hulle reeds jare lank in die gesig gestaar word, sê Mpatha Molokwane, Noordwes-onderwyswoordvoerder. Die prestasie is ook ’n belangrike keerpunt vir die skool en is ’n bewys van die toewyding van leerders, onderwysers en ander belanghebbendes.

Met toewyding kan enige struikelblok oorkom word, sê Motsumi. Foto: Facebook

Viola Motsumi, LUR vir Onderwys, is opgewonde oor die prestasie van die hele provinsie se matrikulantes. Hulle is vierde landwyd met ’n slaagsyfer van 81,6 % in die 2023-eindeksamen.

“Hierdie 66%-slaagsyfer (van die dowe matrieks) is ’n baken van hoop, nie net vir die skool en sy leerders nie, maar vir die dowe en hardhorende gemeenskap regoor die provinsie. Dit demonstreer die krag van samewerking, innovasie en onwrikbare verbintenis tot uitnemendheid,” sê Motsumi.

Sy beklemtoon die belangrikheid van volgehoue ondersteuning vir dowes en sê hoewel hierdie leerders hulle skoolloopbaan voltooi het, sal voortgesette onderwys en beroepsopleiding hulle help om hul volle potensiaal te verwesenlik.

Tshiamo Noge van die Tlamelang Spesiale Skool op Gelukspan het ten spyte van sy fisieke uitdagings drie onderskeidings behaal. Foto: Facebook

Intussen loof Motsumi ook die fisiek gestremde Tshiamo Noge van die Tlamelang Spesiale Skool op Gelukspan vir sy uitstaande uitslae. Ten spyte van sy fisieke uitdagings het Noge drie onderskeidings behaal, in Besigheidstudies, Lewensoriëntering en Setswana.

“Tshiamo is ’n motivering vir baie wat dink dis onmoontlik om gr. 12 te slaag. Hy weet met toewyding kan enige struikelblok oorkom word. Ek hoop dit dien as motivering vir alle leerders wat deur vrees lamgelê word om uit Noge se toewyding te leer,” sê Motsumi.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.