Central SA
Vrystaat-polisie soek reeds vier maande na vermiste Welkom-tiener─── 15:23 Thu, 11 Jan 2024
“Enigiemand met inligting oor haar heenkome word versoek om die Thabong-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe te kontak.”
Die Thabong-polisie soek steeds na ’n vermiste 14-jarige wat in September as vermis aangemeld is en begin November laas gewaar is.
Na bewering is Carol Skhakhane (14) op Donderdag 14 September saam met ’n vriendin na ’n winkelsentrum in Thabong gestuur om ’n paar items te koop, maar sy het nooit teruggekeer huis toe nie. Sy is twee weke later in die geselskap van ’n ongeïdentifiseerde swart man opgemerk.
“Ons kan bevestig dat ons op soek is na Carol Nonhlanhla Skhakhane wat op 14 September omstreeks 14:00 na die winkels is,” sê Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Sy word sedertdien vermis.
‘Sy het nooit teruggekeer huis toe nie’
“Sy is in dele van Thabong opgemerk en is aktief op sosiale media. Ons doen ’n beroep op enigiemand met inligting om uit te reik sodat ons haar veilige terugkeer kan verseker.”
Skhakhane is na bewering op Woensdag 1 November in Odendaalsrus se sakekern gesien, terwyl sy glo gewaar is waar sy plaaslike tavernes besoek het.
OFM Nuus cg