Central SA
Bekende van Noordwes sterf op Kersdag─── 11:32 Wed, 27 Dec 2023
“Dit was 20 jaar se vriendskap en band wat die skêr van die dood kortgeknip het.”
Johan van der Merwe (49), voorsitter van Overvaal Stereo, is kort ná twaalfuur op Kersdag oorlede.
Volgens die radiostasie se Facebook-blad is nie-Hodgkin se limfoom ses weke gelede by hom gediagnoseer. Hy is in die intensiewesorgeenheid van ’n hospitaal in Klerksdorp behandel en is verlede week per lugambulans na ’n hospitaal in Pretoria oorgeplaas waar hy oorlede is. Sy vrou, Stephanie, en hul kinders was langs sy bed.
Hy was die afgelope vyf jaar die voorsitter van die radiostasie, maar sy betrokkenheid daarby strek oor meer as 30 jaar. Sy oupa was een van die stigterslede.
Van der Merwe was benewens sy rol by Overvaal Stereo 'n sakeman in Noordwes en die Vrystaat en was ook bekend as sanger en musikant. Hy was die eienaar van Voorbegin-wildboerdery en -lodge op Bothaville, die stigter en eienaar van die Tradelander-veiligheidsmaatskappy.
‘Dit was 20 jaar se vriendskap wat die skêr van die dood kortgeknip het’
Intussen stroom huldeblyke in op die radiostasie se Facebook-blad. Die stasiebestuurder, Ignaz Streicher, skryf: “Ek wou gister bel om te sê: ‘Geseënde Kersfees en dankie vir alles. Mag 2024 mooi wees,’ maar toe moes ek sê: ‘Gaan rus nou in vrede.’
“Ag Here, my Here, dit was 20 jaar se vriendskap en band wat die skêr van die dood kortgeknip het. Johan jy het my gelos. Ons gelos. Almal gelos. Jy is weg. Ek het vir oulaas vir jou gewaai toe die helikopter jou vat. Wegvat.
“Ek het op die gras neergesak en gebid ... veg net. Kom net nog een keer terug, want Ig het so baie wat ek wou (gevra het), maar jy het gister besluit jy is eers klaar.”
OFM Nuus dg