On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Waterwaens vir Theunissen gereël ná vandalisme by suiweringsaanleg

───   KEKELETSO MOSEBETSI 09:44 Sun, 17 Dec 2023

Waterwaens vir Theunissen gereël ná vandalisme by suiweringsaanleg | News Article
Theunissen se watersuiweringsaanleg is gevandaliseer. Foto verskaf

“Aansienlike skade is aangerig aan die elektriese komponente asook meganiese komponente soos pompe en motors.”

Masilonyana-munisipaliteit sê hy reël waterwaens vir Theunissen nadat dié Vrystaatse dorp se watersuiweringsaanleg die afgelope week kwaai onder vandale deurgeloop het.

Die aanleg is Woensdagnag (13/12) onbewaak gelaat, na bewering omdat die gekontrakteerde sekuriteitsmaatskappy weens beweerde niebetaling in ’n geskil gewikkel is met die plaaslike owerheid, wat ook Winburg, Brandfort en Verkeerdevlei insluit.

Die voorval op die plaas Gewin in die distrik Theunissen het tussen Woensdag (13/12) 19:00 en Donderdag 01:30 plaasgevind toe 15 m koperkabels ter waarde van R25 000 gesteel en skade van sowat R2 miljoen aangerig is, het Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder, gesê.

Santa Potgieter en rdll. Marieta Visser en Willem Potgieter by Theunissen se beskadigde watersuiweringsaanleg. Foto verskaf

Toe sy en rdl. Willem Potgieter die watersuiweringsaanleg Vrydag (15/12) besoek, het Marietta Visser, DA-raadslid, gesê, het hulle niemand op die terrein aangetref om die omvang van die skade te bepaal nie. “Daar was geen bewyse van ’n polisieondersoek nie. Dit is nie as ’n misdaadtoneel gemerk nie. Bewysstukke met moontlike vingerafdrukke is buite gevind.”

Voorlopige assessering is intussen gedoen om die omvang van die skade te bepaal, sê Zongezile Ntjwabule, Masilonyana-woordvoerder, en hulle het bevind aansienlike skade is aangerig aan die elektriese sowel as meganiese komponente soos pompe en motors. Wanneer die watertoevoer herstel word, sal die pompe en motors eers getoets moet word.

Die kragpaal op die terrein is morsaf gesaag. Foto verskaf

Die finale assesseringsverslag sal ’n projekimplementeringsplan oor die herstel van watersuiweringswerke bevat. Ntjwabule sê die munisipaliteit sal Sondag (17/12) besonderhede verskaf oor die verspreiding van waterwaens om water aan die dorp se sowat 23 000 inwoners te voorsien.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.