On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Hulp gevra vir slagoffers ná Bloemfontein se storms

───   KEKELETSO MOSEBETSI 11:59 Mon, 11 Dec 2023

Hulp gevra vir slagoffers ná Bloemfontein se storms  | News Article
Mangaung-burgemeester Gregory Nthatisi, kyk saam met ’n inwoner na stormskade. Foto verskaf

“Ons mobiliseer die munisipale hulpbronne en betrek die provinsie om te sien watter tydelike maatreëls ons kan instel om die eiendom van diegene wat hul huise verloor het, te red en om ’n veilige vesting te bied waar hulle kan tuisgaan.”

(English article.)

Mangaung se burgemeester het die publiek en sake-eienaars versoek om slagoffers te help wat skade gely het tydens die hewige storms wat Bloemfontein die afgelope week getref het.

Meer as 90 huise is erg deur die storms beskadig, terwyl 250 huise op Vanstadensrus beskadig is. ’n Seun (7) is dood, terwyl ’n vrou (55) van Fase 6 en ’n tien maande oue baba in die hospitaal opgeneem is nadat hulle beserings opgedoen het. Hulle is later ontslaan.

“Ons mobiliseer die munisipale hulpbronne en betrek die provinsie om te sien watse tydelike maatreëls ons kan instel om die eiendom van diegene wat hul huise verloor het, te red en om ’n veilige vesting te bied waar hulle tydelik kan woon,” sê Mangaung se burgemeester, Gregory Nthatisi.

Gregory Nthatisi, Mangaung-burgemeester, praat met een van die inwoners. Foto verskaf

Hy het gemeenskapstrukture en ondernemings versoek om te help met kos, klere en skuilings. Die metro werk hard in reaksie op die verwoesting wat deur die donderstorms veroorsaak is.

Tydelike verblyf word by gemeenskapsale aangebied, asook seile en sinkplate vir die beskadigde huise, sê Qondile Khedama, metrowoordvoerder. Ander maatreëls sluit in om geblokkeerde stormpype te prioritiseer om verdere oorstroming te voorkom, asook die verwydering van afval uit puttoilette en septiese tenks om besoedeling van die omgewing te voorkom.

Meer as 90 huise is erg deur die storms beskadig, terwyl 250 huise by Vanstadensrus beskadig is. Foto verskaf

Henry Denner van die VF Plus sê hulle het ook gehelp deur twee vragmotors, elektriese toerusting en mannekrag te voorsien om die druk op die inwoners van Mangaung tydens die skoonmaak te help verlig.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het intussen ’n waarskuwing uitgereik dat wydverspreide, swaar reënval oor alle binnelandse provinsies en KwaZulu-Natal sal voorkom, wat die risiko van oorstromings verhoog. Motoriste en voetgangers word versoek om nie te probeer om riviere of strome oor te steek wat afkom nie.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi  CG/dg/mc



@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.