Central SA
Maatskaplike werkster van Koffiefontein vermis─── 09:34 Sat, 09 Dec 2023
"Dit is kommerwekkend dat ’n kampvegter vir kwessies wat vroue en kinders juis tydens die 16 Dae van Aktivisme teen Geslagsgebaseerde Geweld wegraak."
Jessica Nombulela Michael, ‘n maatskaplike werker by die Vrystaatse departement van maatskaplike ontwikkeling, word steeds vermis.
Die departement is verantwoordelik vir die Slagofferbemagtigingsprogram wat bemagtigingsdienste aan slagoffers van misdaad asook geslagsgeweld en vrouemoord bied.
Die verdwyning van Michael, wat werk met slagoffers by die departement se Koffiefontein-kantoor in die Xhariep-distrik, is vir haar kollegas ‘n skok. “Dit is kommerwekkend dat ‘n kampvegter vir kwessies wat vroue en kinders juis tydens die 16 Dae van Aktivisme teen Geslagsgeweld wegraak,” sê Thembile Nqabeni, departementswoordvoerder.
‘Jessica Michael is Dinsdag laas gesien’
Michael is Dinsdag (5/12) laas gesien. Sy was geklee in ‘n swart hemp met ‘n formele roomkleurige langbroek en wit sandale. Sy is by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) as vermis aangemeld en die Xhariep-distrik se welstandeenheid vir bestuur en werknemers is in verbinding met haar familie.
Thembile doen ‘n beroep op die gemeenskap om op hul hoede te wees vir die gevare wat hulle in die gesig staar. “Laat ons saamwerk om hierdie misdade teen ons vroue en kinders te beëindig,” sê hy.
Die departement vra lede van die gemeenskap met inligting omtrent Michael om die naaste polisiestasie te kontak en/of haar oom by 082 676 3133 te skakel.
OFM-nuus/Linette Retief dz/mc