Central SA
Tiener (15) van Bloemfontein ry die radiogolf─── KAREN VAN DER BERG 15:32 Tue, 05 Dec 2023
Rulhof wys die toerusting wat hy gebruik vir sy amateurradio. Hy het die antenna self gebou. Foto verskaf
Die meeste mense is salig onbewus van ’n hele wêreld van seine, frekwensies, radiokanale en kodes.
Maar Rulhof van der Merwe (15), ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, is ’n kenner op die gebied van amateurradio. Sy passie en vaardigheid hieroor is merkwaardig, meen kundiges.
“Amateurradio is ’n stokperdjie, eintlik ’n vaardigheid,” vertel hy aan OFM Nuus, “waar mense met mekaar kommunikeer deur tweerigtingradio’s te gebruik, deur spesifieke radiofrekwensies vir nie-kommersiële gebruike.”
Rulhof sê dit is ’n diverse gemeenskap van entoesiaste wat plaaslik, landwyd en selfs wêreldwyd met mekaar kommunikeer.
“Een van die lekkerste dinge daarvan is dat ’n mens nie data of lugtyd nodig het nie. As jy ’n radio, ’n antenna en ’n lisensie het kan jy begin gesels,” vertel hy. “Die aanvangskoste is duur, maar wanneer jy al die toerusting het, kan jy net gesels en niks verder nodig hê nie.”
’n Mens het ’n geldige lisensie nodig, wat jy kan kry deur ’n eksamen suksesvol af te lê. Rulhof verduidelik ook daar is verskillende eksamens. Die klas van die eksamen en kwalifikasie wat jy opdoen, bepaal die frekwensie en die golflengte waarop jy kan gesels.
Hy is gaande oor sy stokperdjie. Dit het vir hom ’n fassinerende wêreld oopgemaak het, wat vantevore geslote was.
“Ek neem my radio’s oral saam. Een van my gunstelingplekke is om dit na ons familieplaas te neem omdat dit so stil is. In Bloemfontein maak dinge soos selfoonlaaiers, sonkrag-omskakelaars en selfs die gedruis van sekere ligte ’n geraas op ons golflengtes. Op die plaas is dit skoon en stil.”
Rulhof se belangstelling in amateurradio het begin toe hy nog klein was. “Ek wou nog altyd ’n polisieman word. Ek hou daarvan dat reëls nagekom word en geregtigheid moet geskied. Ek het een jaar, toe ek baie jonger was, tweerigtingradio’s vir Kersfees gekry. Eers was dit net om te speel, maar die belangstelling het verdiep.”
Hy het gaan nalees oor Bloemfontein se sein en het op ’n dag probeer ingaan op die radio. Iemand het hom gehoor en gesê: “Seun, jy mag nie hier praat nie, jy moet ’n lisensie hê.” Hy het toe uitgevind hoe om sy lisensie te kry en dit bekom.
Rulhof het ook al sy eie lugdrade gebou. Hy sê die moontlikhede van uitbreiding hou net nooit op nie. Hy gesels gereeld met mense, en elke oggend voor skool is hy deel van ’n groepie wat gesels en inligting uitruil.
Sy gesin, en veral sy ouers, ondersteun hom in sy stokperdjie. Van links: Sy ma, Helét, sy suster Liné, Ruan, sy pa Ruan, en voor Anru, sy broer. Foto verskaf
Een van die hoogtepunte was toe hy met mense van Amerika gesels het. “Ek dink baie mense stel hierin belang; die inligting daaroor is net min. So daarom praat ek so baie daaroor,” skerts hy.
“Ek wil net vir almal wat betrokke is saam met my bedank vir die leiding en ondersteuning. Ek groet nou met die boodskap 7-3. Dit beteken voorspoed.”
OFM Nuus/Karen van der Berg CG