On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

Vanderbijlpark se dapper Sussie opgeneem met bosluiskoors

───   HEIDRÈ MALGAS 11:52 Mon, 20 Nov 2023

Vanderbijlpark se dapper Sussie opgeneem met bosluiskoors | News Article
Die manhaftige Jack Russell van die Vaaldriehoek wat dae lank vermis was nadat sy inbrekers agternagesit het. Foto verskaf

“Ons het van die begin af vermoed dat sy bosluiskoors sal kry. Die bloedtoetse het dit bevestig. Ons hoop en bid dat daar geen nagevolge gaan wees nie.”

Die manhaftige Jack Russell van die Vaaldriehoek, wat dae lank vermis was nadat sy inbrekers agternagesit het, is Sondag (19/11) met bosluiskoors deur ’n Sasolburgse veearts opgeneem.

Twee voetgangers het Sussie eindelik Vrydag (18/11) in die veld naby die hoofpad agter Vaal Mall gekry ná ’n intensiewe soektog. Sy het weggeraak nadat sy haar ounooi, Kayla Muller, probeer beskerm het toe dié op Maandag (6/11) tuiskom nadat sy ’n eindeksamenvraestel geskryf het by die Hoërskool Transvalia.

Sussie die dag toe sy terug by die huis was. Foto: Vaalweekblad

Drie gewapende mans het ’n televisiestel gesteel by Kayla se ouerhuis in Bernard Pricestraat, Vanderbijlpark, en gevlug terwyl Sussie hulle agternagesit het.

Elvin Muller, Kayla se pa, sê die veearts sal Sussie nog ’n dag moet hou vir waarneming. Tot dusver gaan dit baie beter met haar, het dr. Joanet Woodley van Sasolburg Veearts gesê.

Haar eetlus was aanvanklik so swak, hulle het haar sagte kossies deur die dag gevoer. Sy slaap baie en geniet haar stappies buite op die gras.

Elvin en Sussie nadat sy veilig gevind is. Foto: Vaalweekblad

Muller sê gelukkig het hulle geweet waarvoor om te kyk en gou-gou besef wat skort. “Sussie was af gisteroggend en ons het toe besluit om haar veearts toe te vat. Ons het van die begin af vermoed dat sy bosluiskoors sal kry. Die bloedtoetse het dit bevestig. Ons hoop en bid dat daar geen nagevolge gaan wees nie,” vertel Muller.

Dit gaan intussen goed met Bumper, die Mullers se ander hond wat by was toe die rowers in die huis was. “Hy soek net vir Sussie gister en vanoggend vandat sy opgeneem is. Ek glo nie hy verstaan lekker hoekom sy weer weg is nie,” sê Muller.

OFM Nuus/Heidrè Malgas Corné

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.