On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Verwoestende veldbrand lei tot boer van Dealesville se dood

───   KAREN VAN DER BERG 14:51 Mon, 23 Oct 2023

Verwoestende veldbrand lei tot boer van Dealesville se dood | News Article
Basie van der Watt (43) is die naweek in die Dealesville-omgewing in ’n veldbrand dood. Foto verskaf

“Toe hy uit die huis is, het hy vir Maryna oog geknip.”

’n Verwoestende veldbrand wat deur die weerlig veroorsaak is, het Saterdagmiddag die lewe van Basie van der Watt (43), ’n jakkalsvanger en boer van Dealesville-omgewing, geëis. 

Sy vrou, Corli (35), sê hulle is verpletter ná sy dood. Hulle het Saterdag nog as familie saam gekuier om hul dogter, Maryna, se 15de verjaardag te vier. “’n Mens verwag nie so iets sal gebeur nie. Voordat hy gaan help het om die brand te bestry het hy nog op die bank gesit en met ons gesels. Toe hy uit die huis is, het hy vir Maryna oog geknip.” Die egpaar was 15 jaar getroud.

Corli sê hulle woon in Derick Euvard se huis op die plaas, Boezakfontein. Basie is op ’n WhatsApp-groep van die brandvereniging wat boere in kennis stel wanneer daar veldbrande is. Hy het vroegmiddag met die brand gaan help. Daar het ook ’n brand begin baie naby die huis waar die Van der Watts woon. Hy wou die skape vir hul veiligheid na die kraal vat. 

Sy sê Basie het met sy bakkie in ’n gruisgat beland. Hy het uitgespring om weg te kom en het onbewustelik in die rigting van die vuur gehardloop om weg te kom.

Basie van der Watt en sy dogter, Maryna. Woensdag is haar 15de verjaarsdag. Foto verskaf

“Hy was so ’n goeie man en goeie pa. Hy was baie hulpvaardig en het altyd uitgevind waarmee hy kan help,” sê sy. “Hy het saam met ’n span honde gewerk om jakkalse te vang. Hy het altyd gesê hy sal die beroep bly doen selfs al wen hy miljoene rande.”

Die reëlings vir sy gedenkdiens is nog nie gefinaliseer nie.

Jannie van der Berg (39), ’n boer van die omgewing, en Euvard se seun, Fred (13), en ’n plaaswerker is ook in die brand beseer.

Dit is die soveelste veldbrand die afgelope paar weke in die Vrystaat. Die omvang van die skade wat Saterdag aangerig is, moet nog bepaal word. Geen reën word vir die volgende paar dae voorspel nie.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.