Central SA
Vrystaatse gemeenskap geskok ná kleuter se dood─── ZENANDE MPAME 14:04 Thu, 12 Oct 2023
Daar word vermoed dat Amogelang vergiftig is omdat daar skuim op haar neus en lippe was toe sy gevind is.
Die vierjarige meisie se liggaam is Woensdag (11/10) in ’n emmer agter die buite-toilet by haar ma se huis gevind.
“Ek voel verskriklik – as ek die geleentheid gehad het om my dogter se lewe te red sou ek dit sonder enige huiwering gedoen het. Ek mis haar baie en haar plek is leeg,” sê haar ma, Tshegofatso Finger (25).
Amogelang Finger is Dinsdag (10/10) om 17:15 laas deur haar ma gesien toe sy gevra het om die buitetoilet te gebruik. Ná ’n rukkie het Tshegofatso haar gaan soek maar kon haar nêrens kry nie.
“Ons hart is seer oor die groot verlies en ons betuig ons innige meegevoel met die familie en geliefdes van die onskuldige kind wie se lewe so gou beëindig is,” sê Kelebogile Thulo, woordvoerder van die ANC-vroueliga. “Hierdie tragedie het skokgolwe deur ons gemeenskap gestuur.”
Tshegofatso Finger is getraumatiseerd nadat die liggaam van haar dogter gevind is. Foto: SABC Nuus Vrystaat/Facebook
OFM Nuus het vroeër berig sy is om 06:15 deur ’n buurvrou gevind nadat 'n soekgeselskap deurnag na haar gesoek het. Daar word vermoed dat Amogelang vergiftig is omdat daar skuim op haar neus en lippe was toe sy gevind is.
“ActionSA betreur die dood van die vierjarige meisie en pleit by die Selosesha-gemeenskap om saam met die polisie te werk sodat die skuldige aangekeer kan word,” sê Patricia Kopane, voorsitter.
Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, het die gemeenskap van Selosesha in Thaba Nchu gevra om nie die reg in eie hande te neem nie.