Central SA
Kulturele erfenis, natuur deel van Argitekdag in Vrystaat en Noord-Kaap─── ELSABÉ DE JAGER 08:17 Tue, 03 Oct 2023
In die argitekgemeenskap van Bloemfontein heers daar kommer oor die middestadgebied wat toenemende tekens van verval toon.
In 1985 het die Verenigde Nasies Wêreldhabitatdag ingestel. Die doel daarvan was om nie slegs die gemeenskappe nie, maar ook die argitektuur te vier.
In Bloemfontein is die viering van argitektuur Maandag, volgens die internasionale bepaling, op die eerste Maandag van die tweede herfsmaand in Europa, ingelei.
Die kombinasie van die viering van Wêreldhabitatdag en Internasionale Dag van Argitektuur, is nie toevallig nie. Die doelwit van beide vierings is daarop gemik om die voorwaardes en gemak van woon in bevolkte gebiede te verbeter.
"Argitekte is nie slegs betrokke by die estetiese nie, maar ook by die ruimtelike ervaring van ’n gebou," sê Ras. Foto: Facebook
Jan Ras, voormalige president van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Argitekte (SAIA), sê tydens vanjaar se vierings word daar gefokus op die stedelike gemeenskappe, wat die drywers is van ekonomiese groei en herstel. In die argitekgemeenskap van Bloemfontein heers daar kommer oor die middestadgebied wat toenemende tekens van verval toon. SAIA ondersoek tans as oplossing die moontlikheid dat talle van die leë geboue in dié gebied aangewend kan word vir behuising.
Alhoewel die klem vanjaar op die bewaring van stedelike gemeenskappe val, is die behoud van kulturele erfenis en die herstel van die natuur en biodiversiteit ook van groot belang vir SAIA. Johan Snyman, voorsitter van SAIA se Vrystaattak, sê groot opgewondenheid heers oor ’n roostuin vir Bloemfontein wat tans in die beplanningsfase is.
Hoffmanplein, eens die hart van die Bloemfonteinse middestad, 1967. Foto: Facebook
Ras sê die viering van Argitektuurdag was nie slegs tot Maandag beperk nie, maar sal deur die hele Oktober in die Vrystaat en Noord-Kaap plaasvind.
OFM Nuus/Elsabé de Jager