Central SA
Nog ’n voorval van rassisme by UV ondersoek─── TSHEHLA KOTELI 08:08 Fri, 22 Sep 2023
"Die UV veroordeel enige vorm van rassisme van sy studente en personeel en sal beslis optree as enige van hierdie optrede indruis teen die waardes van die universiteit.”
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) gaan bewerings van rassisme by die Universiteit van die Vrystaat (UV) ondersoek.
René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug, sê die MRK het ingestem om ’n klag van rassisme teen die dosent dr. Pedro Mzileni, te ondersoek. “Die jeugorganisasie het op 17 Augustus ’n klag teen Mzileni ingedien in reaksie op studente se klagtes oor sy rassistiese lesing terwyl hy as gasspreker opgetree het.”
Dr. Pedro Mzileni, 'n gasdosent aan die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Twitter.com/ (@PedroMzileni
AfriForum Jeug is in besit van bewyse van Mzileni se rassistiese kommentaar in sy sosiologieklas. “Sy verdelende retoriek was blykbaar daarop gemik om rasseverdeling en vyandigheid aan te wakker. Een van die studente in sy klas het die jeugorganisasie daarvan ingelig en bewyse gestuur.
Van der Vyver sê hul regspan sou gister nog bewyse van rassisme aan die MRK stuur. “Ideologies verwronge en rassistiese inhoud wat in studente se keel op ons kampusse afgedruk word, moet nooit toegelaat word nie,” sê sy.
Die klag word ook deur ’n onafhanklike regsfirma ondersoek en die aanvullende bewyse sal as ’n nuwe klag ingedien word.
Die Universiteit van die Vrystaat is bewus van die voorval.
Die UV het op sosiale media gesê hy is bewus van die beweerde voorval op Donderdag (14/9) toe ’n student glo rassistiese beledigings teenoor ’n ander student gemaak het.
“Die universiteit beskou die saak in ’n baie ernstige lig en het met ’n dringende en formele ondersoek na die voorval begin. Die UV veroordeel enige vorm van rassisme van sy studente en personeel en sal beslis optree as enige van hierdie optrede indruis teen die waardes van die universiteit.”