On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Swendelaar wat graanboere bedrieg, moet by tronk aanmeld

───   11:43 Mon, 18 Sep 2023

Swendelaar wat graanboere bedrieg, moet by tronk aanmeld | News Article
Phillip Pretorius is in die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein gevonnis. Foto: Valke

Hy het meer as 4 000 ton mielies van meer as R18 miljoen by boere ingevorder, maar versuim om hulle daarvoor te betaal.

’n Graanmakelaar van Bloemfontein, wat daaraan skuldig bevind is dat hy graanboere met meer as R18 miljoen ingeloop het, moet hom Dinsdag (19/9) by die Grootvlei-gevangenis aanmeld om sy agt jaar tronkstraf te begin uitdien.

Phillip Pretorius (51) en sy maatskappy, Eco Grain, is verlede week in die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein gevonnis. News24 berig Pretorius het van Oktober 2019 tot Januarie 2020 mielies by boere in Bultfontein gekoop, met die ooreenkoms dat Pretorius die mielies aan silo's sou verkoop en dan die boere sou betaal.

Pretorius sou boere se mielies aan silo's verkoop.

Hy het meer as 4 000 ton mielies van meer as R18 miljoen by boere ingevorder, maar versuim om hulle daarvoor te betaal. Christopher Singo, woordvoerder van die Valke, sê die graan sou glo aan silo’s in Aliwal-Noord en Bloemfontein gelewer word, maar toe die boere navraag doen moes hulle hoor dat die graan óf nie gelewer is nie, of onder Pretorius se naam gelewer is. Die boere het ’n klag by die Valke gelê en Pretorius is in Februarie 2021 in hegtenis geneem.

‘Ek het gesoebat en gepleit, betaal my geld’

Netwerk24 berig een van die boere, Jacobus Nel van Bultfontein, het in die hof in trane getuig dat hy “tot niet is”. Hy het destyds meer as R2,3 miljoen verloor terwyl sy susters se trusts, wat hy namens hulle bestuur, onderskeidelik meer as R2,3 miljoen en R1,8 miljoen verloor het. Hy het al voorheen met Pretorius sake gedoen en is tóé ten volle betaal.

’n Boer stroop sy mielies.

“Ek het gesoebat en gepleit dat hy my geld moet terugbetaal. Ek het gevra, betaal asseblief my geld. Wat meer moet ek doen? Dit is ’n klomp geld.”

Pretorius en sy maatskappye, Eco Grain BK en Eden Feedlot, het aanvanklik op 12 aanklagte van onder meer bedrog en die oortreding van die Insolvensiewet tereggestaan. Hy is op vyf aanklagte van bedrog en ’n aanklag dat hy op roekelose of bedrieglike wyse sake gedoen het skuldig bevind.

‘Ek hoop en vertrou dat jy by die gevangenis sal aanmeld’

Netwerk24 berig regter Philip Loubser het Vrydag (15/9) ná vonnisoplegging Pretorius se borgtog tot Dinsdag verleng nadat dié uitstel gevra het om “sy sake in orde te kry en steke te laat uithaal nadat hy ’n oogoperasie ondergaan het”.

“Alle sterkte, ek hoop en vertrou dat jy jou by die gevangenis sal aanmeld,” het hy aan Pretorius gesê.

Landbou.com het voorheen berig dat graanboere jaarliks voor ’n moeilike besluit te staan kom wanneer dit by die bemarking van hul graanoeste kom. Verkoop jy jou produk aan ’n groot, “veilige” maatskappy of koöperasie teen ’n kleiner winsmarge, of waag jy ’n kans met ’n kleiner onderneming wat jou meer geld in die sak beloof?

‘Graanboere moet hul huiswerk doen’

“Graanbemarking is ’n multimiljoenrandbedryf, maar die winsmarges is baie klein,” het Francois Strydom, hoof van Senwes, aan Landbou.com gesê. “As ’n agent dus groot winsmarges aanbied, is dit belangrik om daarop aan te dring om die agent se balansstaatkapasiteit en betalingsvermoë te sien.

“Groot marges is ’n duidelike gevaarteken. Produsente moet hul huiswerk vooraf baie goed doen sodat hy seker maak hy kry reeds sy geld wanneer die graan op die plaas gelaai word.”

OFM Nuus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.