Central SA
Vermeende polisiemoordenaar in hof verwag─── HEIDRÈ MALGAS 10:32 Thu, 24 Aug 2023

Die 38-jarige verdagte wat na bewering twee blitspatrollielede noodlottig geskiet het, sal vandag in die Kimberley-landdroshof verskyn op ’n aantal aanklagte, insluitend twee van moord.
Die verdagte is in hegtenis geneem kort ná die beweerde kaping van ’n Transnet-voertuig en die noodlottige skietvoorval waartydens ’n manlike en vroulike lid van die blitspatrollie dood is.
Volgens ’n verklaring wat deur die polisieministerie se woordvoerder, Lirandzu Themba, vrygestel is, het polisieminister, generaal Bheki Cele, en die nasionale kommissaris, generaal Fannie Masemola, Woensdag die families van konstabel Okaetse Mandindi en sersant Kedimetse Masilo in Kimberley besoek.
Cele het gesê die inhegtenisneming van die verdagte kan ongelukkig nie die beamptes terugbring nie. Hy het bygevoeg dat die verdagte al talle botsings met die gereg in ander dele van die land gehad het en agter tralies moes bly.
Die verdagte is 'n bekende misdadiger wat vantevore vir ander misdade in hegtenis geneem is.
Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê Masemola het die vinnige inhegtenisname geprys.
Sersant Kedimetse Masilo. Foto verskaf
Masemola sê sersant Masilo het in 2007 by die SAPD aangesluit en het 16 jaar diens gehad, terwyl konstabel Mandindi in 2012 by die SAPD aangesluit het en 11 jaar diens gehad het.
Konstabel Okaetse Mandindi. Foto verskaf
Altesaam 34 polisielede het hul lewens verloor in 2022/23.
OFM Nuus