Central SA
Beweerde rassisme: Twee Maselspoort-beskuldigdes terug in hof─── KEKELETSO MOSEBETSI 09:45 Mon, 21 Aug 2023

Twee van die drie Maselspoort-beskuldigdes word vandag weer in die Bloemfonteinse Landdroshof verwag nadat hulle van poging tot moord, gewone aanranding en crimen injuria aangekla is.
Die saak teen Jakobus Klaasen en Johan Nel is voorheen tot 21 Augustus uitgestel vir 'n moontlike pleitooreenkoms. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Phaladi Shuping, het voorheen aan OFM Nuus gesê een van die beskuldigdes kan dalk 'n ooreenkoms met die staat aangaan.
Intussen is die derde beskuldigde, Stephanus van der Westhuizen (47), gevonnis tot 'n boete van R4 000 of 12 maande gevangenisstraf nadat hy skuld beken het op ’n aanklag van gewone aanranding. Van der Westhuizen het die kinders en hul pa verskoning gevra, wat dit aanvaar het. Hy het ook die Suid-Afrikaanse publiek om verskoning gevra.
Die drie mans het opslae gemaak nadat ’n video op Kersdag verlede jaar op sosiale media versprei is ná bewerings dat daar ’n swembad by Maselspoort is wat vir wit mense gereserveer is. Toe die polisie opdaag, was die groepe reeds uiteen.
Die ouer van een van die slagoffers het aan die polisie gesê sy twee seuns, onderskeidelik 18 en 13 jaar oud, is deur 'n groep wit mans aangerand oor die gebruik van dié swembad.
Die swembad word gereserveer vir gaste wat by die oord oornag en die slagoffers het beweer hulle het wel by die oord oornag.
Klaasen staan tereg op aanklagte van poging tot moord, gewone aanranding en crimen injuria.
Nel staan tereg op aanklagte van gewone aanranding en crimen injuria.
JONGSTE ONTWIKKELING: Die saak is tot 28 Augustus uitgestel vir ’n moontlike pleitooreenkoms.