Central SA
Lasbriewe uitgereik nadat vermoorde se bakkie by Ficksburg gevind is─── 12:09 Thu, 17 Aug 2023
Die ondersoek na die ontvoering en moord op ’n Hartenbos-sakeman, Desmond Share, het gelei tot die ontdekking van sy voertuig in die Vrystaat en lasbriewe vir die inhegtenisneming van nog twee verdagtes.
Christopher Spies, polisiewoordvoerder, sê die 53-jarige Share se Ford Ranger-bakkie, met die handelsnaam van sy onderneming "Gutter Guru" daarop, is verlede week in Ficksburg in die Vrystaat naby die Lesotho-grens ontdek.
Hy sê die twee verdagtes in wie se besit die voertuig was, het reeds in die hof verskyn op ’n aanklag van die besit van ’n gesteelde voertuig en is tot Donderdag in aanhouding.
Spies sê daar is egter geen bewyse wat dui op hul betrokkenheid in Share se moord nie. Hy sê hulle soek egter na twee verdagtes wat positief met die misdaad verbind word. Lasbriewe vir die inhegtenisneming van Akim Gondo (25) en Shown Gondo (31) is uitgereik. Hulle word na bewering met die moord verbind.
Akim Gondo (25) en Shown Gondo (31) word na bewering met die moord verbind. Foto: Facebook
Algoa FM berig enige persoon wat dalk weet waar hulle is, kan die Da Gamaskop-polisiekantoor of ao. Arleen Stokes kontak. Share is as vermis aangemeld toe hy nooit vir werk in Herbertsdale opgedaag het nie. Sy liggaam is 'n paar dae later met veelvuldige beserings in Albertinia ontdek.
Kort ná sy ontvoering is sy bakkie by 'n vulstasie buite Swellendam opgemerk en geld is ook by twee geleenthede onttrek.
Intussen bly Shadreck Mhetu (30) wat eerste vir die moord in hegtenis geneem is, in aanhouding nadat hy Maandag die tweede keer in die hof verskyn het. Hy is in Da Noon in Kaapstad in hegtenis geneem en is van moord, kaping en ontvoering aangekla.
Sy saak is in die landdroshof in Mosselbaai tot 22 Augustus uitgestel.
Share se gedenkdiens vind Saterdag in Hartenbos plaas.