On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Gemeenskap bring hulde ná driedubbele moord

───   ELSABÉ DE JAGER 12:05 Tue, 04 Jul 2023

Gemeenskap bring hulde ná driedubbele moord | News Article
Helderkleurige ballonne bring troos op ’n wintermiddag. Foto verskaf

“Ek het nie woorde nie,” was die antwoord wat Saterdag telkens opgeklink het op vrae, terwyl geel ballonne in die lug opgaan.

Op die hoek van Van Heerdenweg in Wilgehof, Bloemfontein, het inwoners, vriende, ouers en kinders saamgetrek om afskeid te neem van ’n dagsorgma, haar dogter en skoonseun.

Die liggame van Betsie Kruger (66), Janine (35) en Christo Theron (36) is op 29 Junie in Kruger se huis gevind. Kruger was die eienaar van die Byenes-dagsorgsentrum, op dieselfde perseel. 

Op die middelman van Van Heerdenweg staan ‘n Toyota Cressida met baie myle op. “Christo s’n”, beaam Eugené Maddox, voorsitter van die Collegians-rugbyspan. Christo was lid van die span.

Mense bring hulde met boodskappe op sy rugbytrui. Foto: Verskaf

Nog manne met rooi truie kom sluit aan by Eugené. "Hy was ons braaimeester, ’n sagte reus", laat hoor een van die ander grotes. Sy stem breek en hy vat aan die wit ruiker bo-op die motor se dak.

Bure sluit aan by die groeiende groep op die sypaadjie voor die huis. Vivienne Brink sê dis nie vreemd dat hier so baie mense is nie. Hierdie gemeenskap gee om vir mekaar. Hy woon slegs ’n paar huise af in die pad.

Een-een word sprekers op hul voorname geroep. Vanne is nie belangrik nie, almal ken mekaar te goed.

Johannes bring hulde namens die ouers van die byekinders. Langs my staan ‘n meisie met ’n tekening van ’n bloedrooi roos.

’n Foto en blomme vir onthou. Foto: Verskaf

Zenobia praat oor Janine, haar vriendin van 14 jaar. Sy onthou hoe daar fees gevier is met Christo en Janine se troue ’n paar maande gelede.

Rachel praat namens die werkers. Haar stem raak weg toe sy vertel dat elkeen vir Ouma in “different ways” geken het, maar dat sy vir elkeen tannie Betsie was.

Janine se seun was 16 jaar gelede in tannie Betsie se sorg. Hy is nog net so lief vir haar soos toe.

Die verrigtinge sluit stil-stil af. Dit was nie ’n middag vir antwoorde nie. Die ballonne in die lug bring berusting vir aangaan met die lewe. Die buurtwag wat laer getrek het, maak die sirkel oop vir huis toe gaan. Aan die anderkant van die pad trek ’n volgepakte meubelwa weg na ’n nuwe huis.

OFM Nuus/Elsabé de Jager


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.