Central SA
Huis brand af naby onvoltooide brandweerstasie─── 16:00 Mon, 05 Jun 2023

'n Gesin van Jan Kempdorp in die Noord-Kaap het net hul nagklere oor nadat 'n brand die naweek ná beurtkrag hul huis verwoes het.
Die eienaar van die huis, Frikkie Schoombee, het om 01:00 van die rook wakker geword. Dit was net betyds om sy vrou, Marlize, en twee dogters uit die huis te kry.
Die munisipaliteit se nuwe, onvoltooide brandweerstasie in Piet Retiefstraat is slegs vyf minute se ry van hul huis in Kersielaan. As dié projek binne die beplande tydsraamwerk voltooi was, was hierdie huis moontlik gered, sê die VF Plus-raadslid in die Phokwane Plaaslike Munisipaliteit, Estelle Davies.
Die Schoombees se huis in Jan Kempdorp in ligte laaie.
Weens probleme met die planne se goedkeuring, asook 'n dispuut oor die perseel, is die projek se afhandeling van April tot einde Junie uitgestel.
Die brandweer in Taung, 40 km van Jan Kempdorp, het wel ’n voertuig gestuur. Dit het eers ’n halfuur later opgedaag.
Die brand het waarskynlik weens 'n elektriese kortsluiting ná beurtkrag ontstaan.
Die gemeenskap ingegryp om die gesin te help. Die Laerskool Hartswater het hul klerebank vir skoolklere oopgestel, terwyl die AGS en NG kerk se gemeentes hul klerebanke vir ander klere oopgestel het. Skenkings vanuit die gemeenskap stroom ook in.
Die VF Plus sal verseker dat geen verdere onnodige vertragings met die brandweerstasie ervaar word nie.