Central SA
'Wit' nedersetting in Noord-Kaap kry die wind van voor─── CHARNÉ KEMP 14:52 Tue, 02 May 2023
Die hooggeregshof het ‘n oënskynlik wit Afrikanernedersetting buite Philipstown in die Noord-Kaap wat op landbougrond ontstaan het, beveel om die onwettige dorpstigting te staak.
Die aansoek is gebring deur Gert, Sandra, Gideon en Hendrik Joubert van die Deon Trust teen Xacto Mpy. Bpk., Johan en Jolane Freund, trustees van die Riversdal Trust, wat die grond besit, Pieter van der Westhuizen, en die onbekende bewoners van die plaas.
Die aansoekers se plaas grens aan die omstrede stuk grond. Die Deon Trust sê die grond sou aanvanklik net vir landbou gebruik word, maar ’n nedersetting het ontwikkel, strydig met wetlike bepalings ten opsigte van stads- en streekbeplanning. Die grond is in 2019 skoongemaak, boorgate gesink, heinings om 15 erwe opgerig en paaie gebou.
Volgens die aansoekers, wat ’n besproeiingsplaas bedryf, verlaag die erwe húl grond se waarde. Daar is geen behoorlike infrastruktuur, water- en elektrisiteitsvoorsiening of sanitasie nie. Afvalprodukte sal die grondwater en rivier besoedel.
Freund, wat in Nieu-Seeland woon, is in 2019 genader deur Hendrik Jonk en Theodore Rohm van Grootwater Ontwikkelaars. Hulle het voorgestel dat 20 mense die grond in onderverdeelde erwe van tot 4 ha vir landboubedrywighede kan gebruik om ’n bestaan te voer. Bousels moes tydelik van aard gewees het. Hulle sou huur aan die trust betaal en die projek sou aan wetgewing voldoen.
Regter Cecile Williams het ’n addendum in die grondwet van die Grootwater-ontwikkeling “interessant” gevind. Die doelwit van die ontwikkeling lui: ”Grootwater is vir die Boere/Afrikaners wat streef na die verkryging van ’n Boere/Afrikanergrondgebied in die Noord-Kaap waar ons weer vry kan wees en self oor die aard van ons instellings soos skole en gemeenskapslewe kan beskik.”
‘Dit is beslis nie net ’n landbouprojek nie’
Ander woorde is die gebruik van “volkseie arbeid” en die viering van “ou Suid-Afrikaanse” openbare vakansiedae.
Hoewel die verweerders aanvoer dat dit slegs ’n landbouprojek en nie ’n nedersetting is nie, sonder die regter sekere bepalings in die huurooreenkomste uit. Die direkteure tree op as ’n plaaslike owerheid, tariewe en heffings word gehef, bouplanne, asook aansoeke vir ondernemings of nywerhede moet deur die ontwikkelaars goedgekeur word, en daar is tariewe en vereistes vir die gebruik van die begraafplaas.
“Dit is beslis nie net ’n landbouprojek nie,” het die regter beslis.
Sy het die verweerders gelas om nie die grond te onderverdeel sonder toestemming van die plaaslike munisipaliteit, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling en die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling nie, of toe te sien dat die grond net vir landboubedrywighede gebruik word. Niemand mag ook aangemoedig of toegelaat word om tydelike of permanente woonplekke op te rig nie.
Volgens die regter is dit betreurenswaardig dat nie die minister, die LUR óf plaaslike raad teen die onwettige bedrywighede opgetree het nie.