Central SA
Boervrou van Bothaville word dominee op 72─── CHARNÉ KEMP 09:41 Sun, 02 Apr 2023
Dit was nie aldag maklik nie, maar met die hulp van haar lektore op wie se skouers sy kon huil, het Annette Steenkamp (72), ’n boervrou van Bothaville, onlangs haar B.Th.-graad in Missionale Teologie aan die Hugenote Kollege op Wellington verwerf.
Sy en haar medestudente, Carel van der Merwe en Eliza van der Westhuizen, is die eerste wat die kursus aan die private hoëronderwysinstelling gevolg het. Die drie baanbrekers, wat almal met lof geslaag het, word Maandag (3/4) in die NG Gemeente Stellenbosch-Wes gelegitimeer.
Hulle was deel van die eerste groep afgestudeerdes aan wie die kollege self grade toegeken het nadat dit vier jaar se moeite geverg het om hul graad en die B.-graad in Maatskaplike Werk te akkrediteer.
Die teologiekursus is ontwerp om toeganklik te wees vir studente wat nie sewe jaar residensieel aan ’n universiteit kan studeer nie. Haar twee medestudente is in hul vyftigs.
‘Geleidelik het die Here my tot bekering begelei’
“Ek was maar senuweeagtig oor die legitimasie waar ’n paneel predikante ’n onderhoud met my en die ander studente voer,” vertel Steenkamp. “Ek het verneem dit is ’n baie rustige proses. Al waaroor dit gaan, is om te bepaal dat ons nie dwaalleer sal verkondig nie en die Here volwasse en verantwoordelik sal kan verteenwoordig.”
Sy het op 50-jarige ouderdom tot bekering gekom. “Toe ek met my man getrou en na Bothaville getrek het, het ek gesukkel om aan te pas. Die boerderygemeenskap was baie meer godsdiens georiënteerd as ek; baie afhanklik van die Here.
“Geleidelik het die Here my tot bekering begelei. Sy Gees het met my gewerk, en ek het vier keer per week vir drie tot vier uur op ’n slag Bybelstudie gedoen.
“So het ek myself die afgelope 25 jaar in sy Woord verdiep en insigte en wysheid verkry wat werklik alle verstand te bowe gaan. Ek verstaan beter hoe die Here werk.
‘Die eerste jaar was geweldig moeilik’
“ ’n Mens kan later in ’n vertrek inloop en aanvoel of sy Gees teenwoordig is of nie.”
Vier jaar gelede het sy ’n kennisgewing vir ’n nuwe drie jaar lange teologiekursus in die kerk se nuusbrief raakgelees. Sy en haar man, Seun, het albei daarin belanggestel om die B.A.-kursus in teologie te loop, maar as boer kon hy nie 30 uur per week aan ’n aanlyn kursus afstaan nie. Sy het alleen ingeskryf.
“Die eerste jaar was geweldig moeilik, en ek het baie gesukkel. My kinders het ook maar geduldig gebly en my oor en oor gewys hoe om die rekenaar te gebruik.
“Ek moes rekenaarvaardig word en leer om Zoom te gebruik om klas te loop. Ek het baiekeer op my dosente se skouers gehuil, maar hulle was baie geduldig en ondersteunend. Ek kon hulle enige tyd bel of ’n e-pos stuur.”
Sy het as jong vrou ’n graad in geskiedenis en sielkunde behaal en later ook verpleging gedoen.
’Ek het my kleinkinders ’n bietjie afgeskeep’
Die drie jaar se opoffering was die moeite werd. “Ek is egter bly dit is verby, want ek het my kleinkinders ’n bietjie afgeskeep. Ouma moet nou baie tyd met hulle bestee en konserte en sportbyeenkomste bywoon.”
Sy is ’n diensleraar wat haar op berading wil toespits. “Ek is te oud om ’n predikant te wees wat kerkdienste lei, maar kan instaan in geval van nood of wanneer die predikant nie beskikbaar is nie.
Die Hugenote Kollege kon vanjaar vir die eerste keer self grade toeken, in Missionale Teologie en Maatskaplike Werk. Foto: Facebook
“Die graadkursus het veral op missiologie (sendingwerk) gefokus, wat beteken ons moet uitreik en mense in nood in die gemeenskap bystaan. Ons moet die helpende hand uitreik na die mense om ons, wat ’n ander benadering is as in vorige dekades.
“Die ingesteldheid is nou op ons medemense op alle vlakke. Ons moet ’n beter Suid-Afrika help skep, ’n benadering wat ál meer posvat.”
Die gradeplegtigheid op 17 Maart was ’n hoogtepunt in Annette Snyman se geloofslewe, maar ook in die geskiedenis van die kollege en die NG Kerk.
Sy sê sy is afhanklik van die plaaslike predikant vir leiding om in die gemeenskap betrokke te wees.
Haar lewenservaring en die feit dat sy ’n vrou, ma en ouma is, kan in beradingswerk van nut wees. “ ’n Vrou hoor, sien en voel mos net anders,” sê sy.
Sy en haar man bly steeds op die saaiplaas, waar hul twee seuns saam met hulle boer. “Ons is ongelooflik dankbaar vir hulle. Die plaas lyk soos ’n blomtuin. Ná die afgelope twee jaar se mildelike reën, lyk die oeste goed. Tans is daar sojabone en mielies op die landerye.”
Ds. Nelis Janse van Rensburg, Hugenote Kollege se direksievoorsitter, het tydens die gradeplegtigheid in Wellington se Moederkerk gesê die nuwe diensleraars en maatskaplike werkers is medeverantwoordelik vir die genesing en opbou van Suid-Afrika. Foto: Kerkbode/Heléne Meissenheimer
Kerkbode berig dat dit vier jaar van “paaie en moeite” geverg het om die twee grade, B.Th. in Missionale Teologie en B. Maatskaplike Werk, geakkrediteer te kry. Die twee graadkursusse is op die praktyk gerig.
Die kollege is “ernstig oor die werklikheid van Christus se lewensveranderende teenwoordigheid in die wêreld”, sê ds. Nelis Janse van Rensburg, direksievoorsitter.
Hy vertel aan OFM-nuus die gradeplegtigheid in Maart waar die drie diensleraars en 22 maatskaplike werkers die eerste studente geword het aan wie grade deur die Hugenote Kollege toegeken word, was ’n groot hoogtepunt vir hulle as NG Kerk.
“Die studente [in maatskaplike werk] wat ons voorberei het met die oog op die verkryging van die graad, is verskriklike oulike mense wat kom uit die plattelandse gemeenskap van die Wes-Kaap en Noord-Kaap, hoofsaaklik, wonderlike studente wat ’n verskil kan maak. Baie van hulle sê hulle wil teruggaan na die gemeenskappe waar hulle vandaan kom.
‘Die feit is dat ons mense diep verwond is’
Janse van Rensburg, wat ook moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode is, het vir die studente gesê hulle is van nou af medeverantwoordelik vir die opbou en genesing van Suid-Afrika.
“Die feit is dat ons mense diep verwond is, wonde weens armoede en werkloosheid, wonde weens die geweld teen vroue en kinders, wonde van vernedering, wonde van korrupsie en staatskaping.
“Ek dink daar is niemand beter toegerus nie as juis hierdie studente om hierdie wonde te gaan heel en hoop te bring en ons kinders te gaan versorg en mense se menswaardigheid te gaan herstel en aan ons mense hoop te gee.
Hy sê die Kerk en kollege sien uit na die verhale van hoe hierdie maatskaplike werkers ’n verskil maak as leiers en as agente van transformasie en van hoop.